Saturday, 30 June 2018

Thursday, 21 June 2018

Wintersknieë ...

In die dae voor die groot
staking ...
Hierdie winter het sommer nou ongevraagd by my knieë ingetrek.

En ek stem heelhartig met Blouwillem van Volksblad-faam saam dat my ou lyf al hoe meer na 'n ESKOM-staking voel: Die meeste van die tyd op strike, maar daar is darem nog so hier en daar 'n bietjie krag wat deurkom!

Sunday, 10 June 2018

Die langafstandhond...

Daar is langafstand-verhoudings, afstandsonderrig en derglike dinge, maar ek is die voog van 'n langafstandhond... Murphy is eintlik Henry se hond. Hy sorg vir die hond, koop kos en lekkernye (veral lekkernye), sjampoo en Bob Martins. En dan is daar die veeartsrekeninge wat met liefde betaal word, omdat die hond van tand tot toon, in 'n tip-top-kondisie moet wees.

Wanneer Henry hier gekuier het, is sy skoon geskrop... En dan hou ek maar duime vas, dat die dame sal poog om haar nie onnodig vuil te mors nie, want vir my is dit 'n hele drama om haar deesdae te bad en droog te kry! Hier is sy na so 'n badsessie...

Saturday, 28 April 2018

Geselskapsdame...

Hier op my oudag het ek 'n geselskapsdame ... 'n Op en wakker een! Party dae dink ek sy dink ek is te oud en gee te min aandag aan haar. Op my beurt dink ek weer sy ly aan AGHS. Sy is hiperaktief en impulsief en handel op die ingewing van die oomblik.

Haar aandag word maklik afgelei en sy skakel dikwels en maklik van die een aktiwiteit na die ander oor. Sy vind dit moeilik om op een ding te konsentreer. Rondhardloop is een van haar gunsteling aktiwiteite. 'n Ander gunsteling is eet ... maar net snoepgoed ... kos is van minder belang. En as sy die dag ongelukkig is oor my optrede, dan eet sy nie eers die lekkernye wat ek so goedgunstiglik met haar deel nie. Ek moet regtig mooipraat om weer in haar goeie boekies te kom. Een van die dinge wat haar regtig vies maak, is as ek dorp toe gaan en ek maak haar in die agterste deel van die werf toe ... Sy kan voorwaar 'n keel opsit!! En op hierdie manier verkondig sy dit aan die bure dat ek nie daar is nie!

Verder sukkel sy om opdragte uit te voer, eintlik is sy ongehoorsaam, maar ongelooflik nuuskierig. Sy weet wat by die bure aangaan, oorkant die pad en in die straat ...

Maar is dit nie maar tipies van 'n Jack Russel nie??  

Thursday, 29 March 2018

'n Balans...?

Ek was verlede week by die dokter, want na die griepinspuiting het ek gaan staan en griep kry!! So 'n paar algemene toetse en die bevinding is dat daar balans in my lewe is...

Murphy was veearts toe, maar volgens die veearts is dit pure aandagsoekery...

Tuesday, 20 March 2018

Murphy... (vervolg)

Murphy kom sit graag voor my kamervenster en beplan dan haar dag volgens my bewegings... Bly ek die dag in die kamer, om welke rede ookal, doen sy dieselfde... maar net met meer aksie!! Sy wag die bure se hond in en lok 'n deur-die-draad-geveg uit. Indien die hond aan die anderkant van die huis is, bekruip sy voëls, geitjies of duiwe... Dié wat suksesvol gevang word en nie geëet word nie, word as vredesoffer voor my kamervenster gesit. Nooit gedink dat dié hond wat so verfynd en vol fiemies is, nog steeds eie aan hul natuur, haar jagtersinstinkte so blatant sou blootstel nie.

Volgens alle aanduidings was sy 'n huishond... Sy hou van TV kyk en as sy op haar agterpote staan by die kamervenster, kan sy TV kyk...

Sy is baie liewer vir huiskos en groente en vrugte, as vir haar kos. As jy 'n nartjie, peer, lemoen, perske, tamatie, vy of wat ookal buite staan en eet, kyk sy dit uit jou mond uit! Vir jogurt is sy ongelooflik lief en eet dit graag met 'n lepeltjie uit die bakkie (net Henry het die geduld vir hierdie oefening...) en met roomys en jellie kan jy haar omkoop!   

Verder is dit ook belangrik hoe die kos vir haar gegee word... indien enige van hierdie kos vir haar gegooi word, eet sy dit nie... Dit moet vir haar gegee word, verkieslik korrel vir korrel (in die geval van druiwe) of in blokkies gesny ( in die geval van waatlemoen...)

Ek het al hond se gedagtes gekry dat sy 'n vegetariër is, maar haar gunsteling vleiskossie is hoendervelletjies...

Sunday, 11 March 2018

My nuwe dieet?

Indien 'n mens na die nuus luister en kennis neem van listeriose wat in al die maklike kitskosse vir ons alleenlopers skuil, is dit miskien die beste om die dokter se dieet te volg... Met die pyne wat elke nou en dan sy kop op 'n ander plek uitsteek, kou ons al reeds klippe... die volgende probleemarea gaan seker ons gebit wees!!

Sunday, 4 March 2018

My liefdesdiens...

Die 26ste Februarie het ek gou my gebruiklike draai by die kerkkantoor gaan maak, om die finansiële inligting gou op die rekenaar te sit, toe ons dominee besluit om my aksies vas te vang - die resultaat het hy vir my aangestuur...

Monday, 5 February 2018

Baie dankie vir die gelukwensings!

'n Groot dankie aan elkeen wat my dag so spesiaal gemaak het. Dankie vir elke oproep, SMS, WA, handdruk by die kerk en die verrassingstee wat vir my gereël is. Ek waardeer elkeen van julle en voel geseënd om julle te ken.

Mag elkeen van julle ook die seëninge ervaar wat julle my toegewens het.

Wednesday, 17 January 2018

'n Wewenaar met 'n dwalende oog...

Die ou mense het baie humor gehad en as 'n mens vandag terugdink, dan moes jy net mooi geluister het, want hulle het dikwels 'n storie sommer so in die lug laat hang en jy moes jou eie afleidings maak...

My skoonpa, Tom (Thomas Henry) Roselt, het eendag 'n man, ene Badenhorst, op die dorp raakgeloop. Hy was vir die soveelste keer weer wewenaar, maar die man het ook nie eens lank gerou nie, dan staan hy weer met die volgende mev. Badenhorst voor die kansel.

Dit was tydens een van sy wewenaarskappe wat my skoonpa vir hom sê: "Ag nee, man, jy is besig om die vrouens uit te roei!"

Tuesday, 16 January 2018

Opvoedingstyle in families verskil van mekaar...

As ek aan my pa dink, dink ek aan iemand wat glad nie daaraan geglo het om sy kinders pak te gee nie.
My pa met my op sy arm.
Hy was iemand met 'n sagte hart wat baie lief vir kinders was.

'n Herinnering wat 'n groot glimlag op my gesig sit, was toe Hannes, Boetie (Petrus van der Merwe, Danie van Kleinbrak se oudste broer) en Boy (Oom Pienie se seun, Daphné se broer) besluit het om weg te loop. Hulle was klein en die drie tjokkertjies het na Boy se oupa se plaas geloop.

Hierdie weglopery van die nefies het nie die ouers se goedkeuring weggedra nie en hulle het besluit om hulle 'n pak te gee. Twee van die drie nefies het deurgeloop, maar omdat dit nie by die opvoedingstyl van my pa gepas het nie, het hy nie kans gesien daarvoor nie. Uitkom uit die situasie kon hy ook nie eintlik nie en dit is toe dat hy sy oudste suster, Auntie Annie, wat op daardie stadium by ons gekuier het, vra of sy nie asseblief vir Hannes sal slaan nie. As ek reg onthou het hy haar 5 sjielings aangebied.

Maar daarvoor het sy ook nie kans gesien nie... Hannes was die enigste een van die nefies wat nie pak gekry het nie... Maar die boodskap was dieselfde!!

Sunday, 14 January 2018

My bure in die jare 60...

Ons bure skuins agter ons in die sestiger jare was Jurie en Celie Doman. Ons kinders het altyd Vrydae
Iets soortgelyk... dis so jammer 
ek het nie 'n foto daardie 
tyd geneem nie.
by mekaar gespeel en dan het ons hulle sommer so oor die draad getel.. Een Vrydagmiddag het Monica by Alda kom speel en die volgende Vrydag het Alda weer daar gaan speel.

Celie was 'n kinderkransleidster en daarom het Alda van baie jongs af Kinderkrans toe gegaan... Sy was so tussen drie en vier jaar oud en was in Celie se klas... ongeveer 1963.

Jurie was 'n man wat daarvan gehou het om poetse te bak en ook om iets kreatief te maak. Hy was regtig vaardig met sy hande. Hy het ongeveer in daardie tyd 'n ou stukkende bus gekoop en dit omskep in 'n woonwa. Hy het jare aan hierdie projek van hom gewerk en beter kon jy nie sommer kry nie... Hy het 'n netjiese stukkie werk gedoen en ons bure het so van tyd tot tyd daar gaan inloer om te sien hoe vorder die projek. Hierdie was letterlik 'n huis op wiele, want hierdie bus het meer as genoeg ruimte gehad... Voordat ons die finale produk kon sien, is hy Kokstad toe verplaas en het hy die bus Strydenburg na sy pa-hulle toe gevat. Jurie het vele aanbiedinge gehad om die bus te verkoop wat hy dan later ook gedoen het.. Was dit die eerste van sy soort - wat sou 'n mens dit noem? Dalk 'n buskaravaan?

Ek sien op die internet dat dit deesdae nie meer 'n skaars item is nie.  

Ons buurmanne, ek, Fanie, Jurie en nog een of twee in die blok, was omtrent almal op die kerkraad. Een spesifiek Sondag was Jurie nie in die kerk nie en ek bel hom. Nadat ons gegroet het, vra ek toe aan hom: "Broer, hoekom was jy nie in die kerk nie?" Hy moes my vir die nuwe dominee, ds. Willem Steenkamp, aangehoor het, want hy het behoorlik klei getrap tussen al die verskonings...

Baie jare later het hulle gaan aftree op Strydenburg in die Noord-Kaap! Hulle het in dieselfde huis as sy ma-hulle gebly en op daardie stadium was hy burgemeester van die dorp, net soos sy pa baie baie dekades voor hom.

Strydenburg is een van daardie klein dorpies waar daar nie baie gebeur nie. Een Desember toe Henry-hulle van die Kaap af kom, ry hulle deur Strydenburg en besluit om sommer brandstof in te gooi. Die petroljoggies het so teen die muur gehurk en toe Henry hulle vra wat hulle hier in Strydenburg maak, was sy antwoord: "Meneer, hier haal ons nog net asem."

Monday, 8 January 2018

Interessante berekenings...

The rand is currently enjoying one of its longest winning streaks since 2002, with the currency trading at R12.37 to the dollar on Monday, 8 January.

This means that those looking to travel internationally may find that they will be getting the best bang for their buck right now. BusinessTech looked at what R100 can get you at current prices around the world:
  • UK: £5.96
  • USA: $8.08
  • Australia: AU$10.30
    So 'n terugblik op ons vlug Kaap
    toe in 2005 vir 'n kort vakansie
    in Gordonsbaai. Ek, Jane en 
    Alda. Die fotograaf was Henry!!
  • Germany: €6.73
  • Brazil: R$26.1
  • China:  52.36 Yuan
  • Dubai: 29.67 dirham
  • Canada: C$10.03
  • Thailand: 263.15 Baht
The prices below are not meant to demonstrate purchasing power parity and do not serve as an equal-weighted price comparison – it is simply a guide on how South African travellers should budget, should they want to engage in ‘leisure’ activities while touring.



















[https://businesstech.co.za/news/finance/218267/heres-
what-r100-buys-you-around-the-world-right-now-2/]

Ek bly maar lief vir syfers... Maar miskien is die heel beste
op hierdie stadium vir my om maar te bly waar ek is.

Friday, 5 January 2018

Wednesday, 3 January 2018

Kersvakansiepeuselhappies...

Al die kouery en heerlike etery gedurende die Kersweek, tel
gelukkig nie!!! 'n Mens peusel mos baie meer as die kinders
en kleinkinders kom kuier!! Maar het my lyf al die boodskap
gekry... dit voel nie so as ek my broeke aantrek nie!!!   

Tuesday, 2 January 2018

My kykertal...

My storietjies en gedagtes teken ek maar op vir die kinders, maar veral vir die kleinkinders, sodat hulle darem so 'n ietsie van hulle oupa en ouma kan lees, as hulle eendag tot ruste kom... deesdae se kinders lewe mos teen dubbelspoed... verder lees hulle mos net dinge wat op internet is... so daarom het ek maar besluit om dit vir hulle makliker te maak... ek beweeg toe op hulle terrein!
Hulle sê mos: "If you can't beat them, join them!"  

Monday, 1 January 2018

My lesertal - op 1 Januarie 2018

5115 besoekers - 'n patroongetal op hierdie nuwe jaar.

Mag 2018 'n geseënde jaar wees...


Sunday, 31 December 2017

Ek spreek seën oor jou uit:

#  Ek seën jou met die vreugde van guns in God se oë en ook in die oë van ander.
#  Ek seën jou met mense wat om jou inskuif en jou hande oplig en 'n pad saam met jou begin stap.
#  Ek seën jou met goddelike vriendskappe, mense wat jou sal aanmoedig, en jou droom met jou sal           deel.
#  Ek seën jou met 'n sagte hart, 'n hart vol liefde.
#  Ek seën jou met God se wysheid in elke besluit van jou lewe.
#  Ek seën jou met God se leiding, Sy guns en Sy genade oor jou.
#  Ek seën jou talente, jou gawes en jou verhoudings.
#  Ek seën jou finansies, jou besigheid en jou denke.
#  Ek seën jou gees, jou siel en jou liggaam.
#  Ek seën jou lewenstaak met vreugde, harmonie en liefde.
#  Ek seën jou gesin, familie en jou drome.
#  Ek seën jou om jou ware identiteit te vind in Christus.
#  Ek seën jou met die wete dat jy 'n Vader het wat jou innig lief het, dat niks wat jy kan doen Hom           liewer kan maak vir jou nie, ook nie minder nie.
#  Ek seën jou om daagliks Sy voorsiening te beleef, Sy totale beskerming en Sy doel vir jou lewe.
#  Ek seën jou met die wete dat niks in jou lewe, verlede of toekoms jou kan skei van die liefde van God     nie.

"Die Here sal jou seën en jou behoed;
 Die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou  genadig wees;
 Die Here sal Sy aangesig oor
 jou verhef en aan jou vrede gee"

Geseënd is jy, geliefde van God! Geseënde 2018!!

Ontvang die seën in die Naam van Jesus Christus!

[Ek deel graag hierdie seënwense wat ek vanoggend van my niggie, Ella Goosen, ontvang het, met almal wat hierdie blog besoek!] 

Monday, 25 December 2017

Mag elkeen Sy seën op hierdie Kersdag
ervaar.  

























My jongdae-vriende, Chris en Yvonne van der
Walt, vroeër van Kimberley, maar deesdae op
George, op Kersdag 2017.