Tuesday 20 March 2018

Murphy... (vervolg)

Murphy kom sit graag voor my kamervenster en beplan dan haar dag volgens my bewegings... Bly ek die dag in die kamer, om welke rede ookal, doen sy dieselfde... maar net met meer aksie!! Sy wag die bure se hond in en lok 'n deur-die-draad-geveg uit. Indien die hond aan die anderkant van die huis is, bekruip sy voëls, geitjies of duiwe... Dié wat suksesvol gevang word en nie geëet word nie, word as vredesoffer voor my kamervenster gesit. Nooit gedink dat dié hond wat so verfynd en vol fiemies is, nog steeds eie aan hul natuur, haar jagtersinstinkte so blatant sou blootstel nie.

Volgens alle aanduidings was sy 'n huishond... Sy hou van TV kyk en as sy op haar agterpote staan by die kamervenster, kan sy TV kyk...

Sy is baie liewer vir huiskos en groente en vrugte, as vir haar kos. As jy 'n nartjie, peer, lemoen, perske, tamatie, vy of wat ookal buite staan en eet, kyk sy dit uit jou mond uit! Vir jogurt is sy ongelooflik lief en eet dit graag met 'n lepeltjie uit die bakkie (net Henry het die geduld vir hierdie oefening...) en met roomys en jellie kan jy haar omkoop!   

Verder is dit ook belangrik hoe die kos vir haar gegee word... indien enige van hierdie kos vir haar gegooi word, eet sy dit nie... Dit moet vir haar gegee word, verkieslik korrel vir korrel (in die geval van druiwe) of in blokkies gesny ( in die geval van waatlemoen...)

Ek het al hond se gedagtes gekry dat sy 'n vegetariër is, maar haar gunsteling vleiskossie is hoendervelletjies...