Showing posts with label Bure. Show all posts
Showing posts with label Bure. Show all posts

Sunday, 14 January 2018

My bure in die jare 60...

Ons bure skuins agter ons in die sestiger jare was Jurie en Celie Doman. Ons kinders het altyd Vrydae
Iets soortgelyk... dis so jammer 
ek het nie 'n foto daardie 
tyd geneem nie.
by mekaar gespeel en dan het ons hulle sommer so oor die draad getel.. Een Vrydagmiddag het Monica by Alda kom speel en die volgende Vrydag het Alda weer daar gaan speel.

Celie was 'n kinderkransleidster en daarom het Alda van baie jongs af Kinderkrans toe gegaan... Sy was so tussen drie en vier jaar oud en was in Celie se klas... ongeveer 1963.

Jurie was 'n man wat daarvan gehou het om poetse te bak en ook om iets kreatief te maak. Hy was regtig vaardig met sy hande. Hy het ongeveer in daardie tyd 'n ou stukkende bus gekoop en dit omskep in 'n woonwa. Hy het jare aan hierdie projek van hom gewerk en beter kon jy nie sommer kry nie... Hy het 'n netjiese stukkie werk gedoen en ons bure het so van tyd tot tyd daar gaan inloer om te sien hoe vorder die projek. Hierdie was letterlik 'n huis op wiele, want hierdie bus het meer as genoeg ruimte gehad... Voordat ons die finale produk kon sien, is hy Kokstad toe verplaas en het hy die bus Strydenburg na sy pa-hulle toe gevat. Jurie het vele aanbiedinge gehad om die bus te verkoop wat hy dan later ook gedoen het.. Was dit die eerste van sy soort - wat sou 'n mens dit noem? Dalk 'n buskaravaan?

Ek sien op die internet dat dit deesdae nie meer 'n skaars item is nie.  

Ons buurmanne, ek, Fanie, Jurie en nog een of twee in die blok, was omtrent almal op die kerkraad. Een spesifiek Sondag was Jurie nie in die kerk nie en ek bel hom. Nadat ons gegroet het, vra ek toe aan hom: "Broer, hoekom was jy nie in die kerk nie?" Hy moes my vir die nuwe dominee, ds. Willem Steenkamp, aangehoor het, want hy het behoorlik klei getrap tussen al die verskonings...

Baie jare later het hulle gaan aftree op Strydenburg in die Noord-Kaap! Hulle het in dieselfde huis as sy ma-hulle gebly en op daardie stadium was hy burgemeester van die dorp, net soos sy pa baie baie dekades voor hom.

Strydenburg is een van daardie klein dorpies waar daar nie baie gebeur nie. Een Desember toe Henry-hulle van die Kaap af kom, ry hulle deur Strydenburg en besluit om sommer brandstof in te gooi. Die petroljoggies het so teen die muur gehurk en toe Henry hulle vra wat hulle hier in Strydenburg maak, was sy antwoord: "Meneer, hier haal ons nog net asem."

Friday, 20 January 2017

Bure in die baie vroeë jare 60...

Beriggie wat in Netwerk24 verskyn het.

Kobie Linde, ’n predikant, skrywer van verskeie geestelike boeke en eggenoot van die skrywer Engela van Rooyen, is Maandag in die Moot-hospitaal in Pretoria aan nierversaking dood.
Hy was ’n jaar lank in ’n versorgingseenheid aangesien hy ook aan demensie en diabetes gely het.
Linde is in 1935 gebore en het teologie aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer waar hy Van Rooyen ontmoet het. Hy was jare lank ’n kapelaan in Potchefstroom.
Sy meer as tien boeke het van 1992 tot 2004 verskyn en sluit in Goed begin, Padlangs na God, Superwenners, Uitroeptekens vir God, Die God wat omgee: Bybelse dagboek en Die volgende tree: ’n Dagreis deur Handelinge.
Van Rooyen sê in ’n e-pos “ons hou nie begrafnis of ’n gedenkdiens nie, gaan net die naweek saam as gesin saam met ma en kinders kuier en eet. Dit was vir my ’n groot bevryding om te besef dat begrafnis nie nodig is nie.
Wanneer ons oor ’n paar weke sy as bêre in die gedenkmuur by die kerk, sal ons weer almal teenwoordig probeer wees, tesame met ons dominee.”
Linde laat sy vrou, vier kinders en kleinkinders agter.

[20 Januarie 2017 14:25]
[http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/skrywer-predikant-dood-aan-nierversaking-20170120]