Monday 1 April 2019

Oom Schalk ...

Vir so lank as wat ek kan onthou,
was ek deel van die gesin -
Tannie Jane was my peetma
en oom Schalk was my peetpa.
Ek was strooimeisie,
Ek was 'n loseerder
en ek het soms doeke omgeruil!

Ek kan en ek wil graag getuig dat
oom Schalk 'n man van integriteit was,
van onberispelike karakter.
Maar bo alles, was hy 'n opregte kind van God
wat sy Christenskap uitgeleef en uitgestraal het.
Hy het op talle maniere, groot en klein,
die wêreld waarin hy beweeg het, 'n beter plek gemaak.

Hy was altyd die sagte bedagsame gentleman;
hy het alle mense met respek behandel,
daarom is hy oral gerespekteer.

Hy was die rolmodel-eggenoot,
hy was die rolmodel-vader en
hy was die rolmodel-oupa.

Hy is, soos ons almal, met 'n doel en 'n rede
in God se skepping geplaas -
hy het sy taak voltooi en ons gun hom
die rus wat hy verdien, al is ons harte stukkend.

Hy het té veel mense se lewens geseën en
aangeraak om ooit vergeet te word.
Vir solank as wat ons sal lewe en onthou,
sal hy by ons wees.

Vir my was dit 'n eer en 'n voorreg om vir
soveel jare deel van sy lewe te kon wees,
dit het 'n beter mens van my gemaak.

Ons gaan hom mis -
Oom Schalk, ek mis alreeds ons gereelde
telefoonkuiertjies;
Sondagaande sal nooit weer dieselfde wees nie.

Rus sag, my spesiale oom, totdat ons eendag weer
ons geselsies en grappies kan voortsit.

Meisie de Koker

Thursday 28 March 2019

Sunday 13 January 2019

Murraysburg se mense maak die verskil ...

Met al die klomp slegte nuus wat 'n mens in koerante en op die internet lees, is dit heerlik om te sien dat daar dorpies is wat die verskil maak daar waar hulle bly. Ek deel dit graag op my blog, want dit kan as voorbeeld vir ons ander dien. Viva Murraysburg.

Wednesday 2 January 2019

Gewiel en gespoor ...

Mense is gewoonlik gestewel en gespoor as hulle êrens heen gaan, maar ek dink 'n mens moet eerder gewiel en gespoor wees, anders ontspoor jy dalk.

Motors, en ek is oud genoeg om nog die ou modelle te beleef het, wat met 'n slinger aan die brand gedraai is, is maar altyd deel van 'n seuntjie se leefwêreld.

Ons het altyd draadkarre gehad, inteendeel as ek so terugdink, dan was ons professionele draadkarbouers vir daardie jare en vir ons ouderdom. Ons het ons draadkarre met luserndraad gebou - dit is 'n dikkerige draad, maar het makliker gewerk as die dik draad wat vir priële gebruik is, vir die takke om teen te rank.  Ons het ou Chev-draadkarre gehad en ons draadkarre het ook werklike ligte gehad. Vir dit het ons gloeilampies in die ligte se plek gesit en dit dan met 'n flitsbattery gekonnekteer. En om waarde vir jou handearbeid te kry, het ons dus ook in die aand met die draadkarre gespeel. Ure se werk het in so 'n draadkar ingegaan. So 'n draadkar het nie nommerplaatloos in die stofstrate van De Aar gery nie.

Ons het wiele van draad gebuig en dit dan oorgetrek met die binneband van 'n fiets of motor. Ons latere modelle het ook 'n kattebak gehad en beweegbare enjinkapkap. Broer Piet was baie handig en was altyd op die uitkyk hoe ons die draadkarre kon verbeter. (Ek wens ek het foto's daarvan gehad, sodat ek hierdie storie kon fotostaaf, maar in ons jare, met die bokskameratjies, was foto's meer die uitsondering as die reël. Ek het hierdie draadkar van die internet geleen, maar dit het nie naastenby die al die "gadgets" wat ons aan ons karre gesit het nie, die enigste rede hoekom ek hierdie foto ter illustrasie gebruik, is omdat dit nie plastiese wiele het nie.)

Draadkarre is nou weer hoog mode en by garages en koöperasies is dit algemeen beskikbaar (pryse wissel, afhangende van die model - daar is draadkarre wat in die omgewing van 'n R1000,00 draai.)

Nou wonder ek, was die vreugde wat draadkarre ons gebied het, nie geleë in die feit dat ons dit self gebou het nie?

Tuesday 1 January 2019

Waar kom my lesers vandaan?

Ek skryf hierdie stories uit my kinderdae vir my kleinkinders neer, sodat hulle, as hulle eendag so oud is soos ek nou is, op 'n Sondagmiddag deur die albums/blogs kan blaai en hulle hul dan kan verkneukel in die dinge van die "ou dae".

Aan die einde van die jaar is 'n mens geneig om 'n opname te maak van wat die jaar gebeur het - die goeie en die slegte. So het ek ook na my blog gekyk en na die opsomming wat Google daagliks gee.

Interessant is dat daar ook ander lesers is, behalwe my kleinkinders wat nie nou in oupa se blog belangstel nie! Wat my die meeste interesseer is die klomp Russe wat my blog lees - nooit gedink dat hulle Afrikaans so goed is nie!!

Ek het ook 'n "screen shot" gemaak van die mees gelese gedeeltes ... En soos treffersparade in die ou dae, is daar ook 'n nr. 1, 'n nr. 2 ens.

Ek gee die top 5 lande (indien die getalle dalk te klein is om te lees)
Suid-Afrika (4200), Rusland (1301), Amerika (333), Frankryk (329) en België (153). As ek altyd na Amerika se getalle kyk, wonder ek of Petro (Jane se broerskind) een van die lesers is en as ek na België se aantal lesers kyk, wonder ek of Magalie (Henry-hulle se vriendin, wat saam met hulle 'n naweek in Kimberley gekuier het) ook af en toe hierna kyk.

Dankie vir elkeen wat my stories lees en mag 2019 vir julle ongekende voorspoed inhou.