Wie's ek?

Op 5 Februarie 1932 word Schalk Willem Pienaar in De Aar gebore, as die derde seun van Schalk Willem Pienaar gebore 03/12/1902 en Petronella Susanna Pienaar ('n nooi Van der Merwe) gebore 26/06/1898.

My ma, algemeen bekend as Nellie kom van Murraysburg af .

My grootouers is van vaderskant af Johannes Lodiwikus Pienaar en Anna Pienaar (gebore Burger) en van moederskant af,  Petrus van der Merwe en Hester van der Merwe (gebore Van der Merwe - dus loop die Van der Merwe-bloed baie dik deur die Pienaar-bloedjies se are.)


My Pa-hulle was drie broers nl. pa Schalk (oudste), oom Koos, oom Johannes en 'n suster, tannie Stompie (Swaelkrans).

Oom Koos en tannie Kate het twee  kinders  by name Laddy (Johannes Lodewikus) en Mercia. Oom Johannes en tannie Driena het 4 kinders by name Ria en JL, JJ en ?.

Tannie Stompie en oom Alwyn van der Merwe het ook 4 kinders in lewe naamlik Anna, Alwyn, Schalk,en Hester.

My Ma-hulle was een broer oom Danie en vier susters; tannie Annie, tannie Ella, ma Nellie en tannie Baby.

My oudste broer is Johannes Lodewikus (geb 1 April 1927 en oorlede in die lente van 1988) en Petrus van der Merwe (Piet) (gebore 4 Junie 1928 en oorlede Mei 1970 op die jeugdige ouderdom van 42 jaar.)


Hy het op De Aar werk gekry as rangeeder SAS&H in die tye van min werk as gevolg die land se ekonomie. 

***

'n Paar staaltjies uit my jonger dae was dat ek graag met my fiets gery het en tot ergenis van die bure 'n swaar asbos agter aan die fiets vasgemaak het (De Aar het grondstrate op daardie stadium gehad) en al om die huise gery om die grootste klomp stof te maak denkbaar. Die tannies se blinkrooi stoepe was asvaal van die stof.

Nodeloos om te sê hulle was nie baie vriendelik hieroor nie.

***

Nog 'n insident  wat my helder voor oë staan, was die keer toe die Roomse Priester my in die tronk wou laat toesluit het. Ons huis was nie ver van die Klooster af nie en kinders wat in die koshuis gebly het, kon net sekere dae dorp toe gegaan het.

Ek was nog maar klein en my broer Piet en die bure se seun, Hannes Venter, het die kinders op een of ander manier gepla. Die Priester, ou Vader Max ,het dit van sy huis af gesien en soos blits gehardloop om ons te vang of te verwilder. Ek was te stadig en Vader Max vang my en is toe reguit tronk toe met my. Die tronk was net oorkant ons huis. Die bewaarder in beheer sê vir hom dat hy dit nie kan doen nie. Vader Max neem my toe na die Klooster en skakel die polisie, intussen het Piet vir my pa wat siek en in die bed was, gaan vertel. My pa staan net daarop en loop klooster toe. Hy was 'n sterk man en die ou taal, 'n goeie 6 voet 6! Die Priester was nog besig om die polisie te skakel terwyl hy my vashou... en dit moes hy nie probeer het nie! My pa het hom net  so 'n oorveeg gegee en  my huis toe gevat!


***

In De Aar laerskool het ou ds. Du Plesies baie kere skool toe gekom net so met speeltyd, en dan saam met ons outjies top gegooi. Dit was vir ons nogal baie lekker .       
                                                                    

In st. 5 het ons klas 'n groentetuin onder mnr. Groenewald se toesig aanglê wat besproei was met water uit die windpomp, waarvan daar baie op De Aar was.                                                                                    

***

Op hoërskool het mnr. Lesch altyd, indien jou gedrag en punte nie na sy sin was nie, gesê: "Kom ons gaan   hou piekniek!", menende dat ons 'n paar van die bestes in die skoolhoof, dr. Gunter, se kantoor gaan kry.  

(Daar was 'n stadium op skool wat ek as predikant wou gaan studeer). Uit ons klas is twee leerlinge, Willie Human en Jansie du Plessies, wat as predikante bevestig is.                                                                       

***

Ek was vir 'n onderhoud na Kimberley en het die aanstelling as klerk graad 5 in die Afdeling Uitgawe, in kamer 13, in die Hoofkantoor Kimberley gekry. Na die onderhoud, is ek eers weer huis toe om al my besittings te kry.

Die aand van 20 Augustus 1950 het my Pa en Jane en my broers my stasie toe geneem om die trein te haal wat om half twaalf die aand vertrek het. Dit was maar nie baie lekker nie om weg te gaan nie.

Die volgende oggend om half ses het die trein Kimberley-stasie ingestoom. Ek was half verlore. Waarheen nou? Waar moet ek blyplek kry?  Ek het so uitgevind en na 'n Cloete- gesin gegaan en daar 'n kamer gedeel met 'n verkeerskonstabel, 'n aangename jongman. Die kamer was nie baie bly vriendelik nie... die enigste venster het omtrent teen die dak gesit. Daar het ek 'n ruk lank gebly.. dit was baie goeie ou mense. Die jongman het my nogal probeer laat tuisvoel in Kimberley. Een naweek was ons uit na die rivier saam met sy vriende en vriendin - hulle was aangenaam, maar ek kon nie regtig inskakel nie.

***

Ek kry toe losies by 'n losieshuis, nie ver daarvandaan nie, by Fourie-mense. Hulle het 'n ry kamers in die agterplaas gehad. Ek beland toe saam met 'n mnr. Bester (oom) aan tafel. Hy was van Hopetown en hy het by die staatsveeaarts gewerk, ook iemand wat uit sy plaas is. Ons het goeie vriende geword.


Ek word toe siek en my broer Piet en Jane kom deur Kimberley toe om te sien hoe dit hier gaan en hulle kry my in die bed. Jane merk toe op dat een kombers waaronder ek slaap vol deegoorblyfsels is. Hierdie situasie was toe nie meer goed vir my nie.

Oom Bester het vir ons blyplek by die Stasie Hotel georganiseer, maar ons moes toe een of ander verskoning kry om so kort kennis te gee... ek was verplaas!! En op dié manier het ons by die Stasie Hotel beland in 'n dubbelkamer.

Ek onthou baie goed dat hy altyd 'n pakkie gemmerbeskuitjies gehad het, wat ons ons Sondaemiddae geniet het.

Ek was een naweek saam met hom na Hopetown. Ons is die Sondag kerk toe en daar ontmoet ek werklik 'n verpleegster wat saam met Jane werk. Die middag is ek saam met haar en haar vriend plaas toe en het daar 'n heerlike boere-ete gehad.

Oom Bester se vrou was musiekonderwyseres en het ook die orrel in die kerk gespeel.
Op 'n stadium het sy ook Kimberley toe gekom en ek het toe 'n enkelkamer gekry.

***

Chris en Yvonne van der Walt het ook daar gebly. Ek het ook baie by hulle in Yvonne, Chris se vriendin, se kamer gekuier. Ek onthou ook dat ons daardie dae baie netjies kantoor toe gegaan het en as Yvonne 'n nuwe rok maak, moes ons by haar sit tot die rok klaar gemaak is,  wat sy dan die volgende dag aangetrek het.    

***

Ek het al my bevorderings in Kimberley gekry ten spyte daarvan dat ek ook nominasies na ander stede aanvaar het. Nou is dit vir my duidelik hoekom ek nooit moes weggegaan het nie. Die Here het 'n doel daarmee gehad.

Jane het op daardie stadium in Lichtenburg verpleeg, ek het met een van my vakansies daar gaan kuier. Sy het plek in die Tambotie Hotel bespreek en was dit nou 'n uitstaande plek - goeie slaapplek, etes onverbeterlik. Sy het toe 'n paar keer daar kom eet as sy die dag af is. Ek het ook saam met 'n persoon wat ek daar ontmoet het, rondgery. Sy werk was om in die distrik uit te gaan om herstelwerk aan die boere se masjinerie te doen, sodoende het ek ook meer van Lichtenburg te siene gekry.

Hiervandaan is ek na Pretroria toe om vir neef Boet te gaan kuier.


***

Jane het toe 'n betrekking in Kimberley by Kreupelsorg aanvaar, die matrone daar was mev. Jane Badenhorst.

Ek en Jane is in die NG Gemeente Kimberley-Noord, op 30 Junie 1956 getroud en na 'n heerlike wittebrood in Durban by die Killarney Hotel, teruggekeer om so ons lewens saam te begin.

Eers loseer ons in 'n kamer by Bedfortcourt. Daarna kry ons 'n woonstel in die Progres-gebou. Na 'n jaar daar en nadat ons 'n tweeling verloor het, het ons gelukkig 'n huis by die Nasionale Behuising bekom waarin ek vandag nog woon.

Ons het in Julie 1958 hier ingetrek en was so opgewonde soos 'n klomp kinders oor die mooiste huis in die omgewing wat ons betref.   

Ons het gaan aanmeld by die pastorie en mev. Maritz was ook daar om mev. Smit met die gordyne te help. Sy roep toe vir mev. Smit en kondig aan dat hier 'n kandidaat vir die Vrouediens is.

Die leierdiaken van daardie tyd, Frank Orton, het ons kom verwelkom in die NG Gemeente Dutoitspan. (Terloops, ons wou nooit in daardie woonbuurt bly nie).
Dit was nie te lank daarna nie, toe ds. Smit en Oom Wagner, die ouderling, ons kom besoek nadat ek verkies is as diaken. Ons het gepraat en  ds. het nooit eers verwys na die amp nie, opgestaan en wou net loop toe Oom Wagner sê: " Ds, jy het dan nooit eers met die man oor sy verkiesing gepraat nie." Ds. sê: "Ek het op sy vrou se gesig gesien alles is reg" en toe het hy gegroet.

Dit is hoekom ek sê die Here het 'n doel gehad met my bevorderings in Kimberley.

Na ds. Smit se vertrek, het ds. WJ Steenkamp die beroep na Dutoitspan-gemeente aanvaar. Dit het goed gegaan totdat mnr. Andries Combrinck (kassier) verplaas is en mnr. S Beukes oorgeneem het as kassier.  Ongelukkig kon hy net 'n paar maande aangaan, toe hy ook verplaas is. Ds. Steenkamp het my genader en gevra of ek bereid is om oor te neem as kassier. Vir elke verskoning wat ek gemaak het, het hy 'n oplossing gehad.Op die ou end is ek in die pos aangestel en moes ek myself leer wat aangaan. Dié dat ek sê die Here het 'n plan met my gehad.

Nou na 54 jaar is ek nog in diens van die Dutoitspan-kerk.