Sunday 23 September 2018

My huidige gespreksgenoot ...

Van al die vierpotiges wat al my pad gekruis het, gee hierdie een my die meeste vreugde. Murphy kommunikeer baie duidelik en as sy nie van iets hou nie, dan laat sy jou geensins in die duister nie. Sy het die gewoonte om deur die loop van die dag altyd 'n lekkernytjie by my kamervenster te kom vra. Sy staan op haar agterpote en het die vra-dans al behoorlik vervolmaak. Geen mens kan haar snoepgoed weier, as sy só mooi vra nie. Verlede week besluit ek om net een happie vir haar te gee, i.p.v. die gebruiklike kwota. Sy het net eenvoudig daaraan geruik, daarna gekyk en dit geïgnoreer. Eers toe ek vir haar nog gee, het sy dit geëet. Hierdie gedrag het ek by herhaling getoets - sy is nie tevrede met een snoepwieletjie of -stokkie nie, sy wag vir meer!

Ek besluit toe om haar eergister te bad, sodat sy darem net 'n bietjie skoner daar uitsien. Ek kan nie meer so lank staan nie, gevolglik het ek haar maar vinnig gebad en nie deeglik soos altyd nie. Ek gaan sit toe op die draadstoel, met haar aan die leiband sodat sy kan droog word, voordat ek haar weer haar vryheid gee. En daar by my voete, lê en lek sy haar bene en kyk vir my - so asof sy vir my sê dat ek halwe werk gedoen het en nie haar bene gewas het nie. Toe ek besluit dat sy nou droog genoeg is, maak ek haar los en voor ek by die agterdeur is, kom staan sy voor my - so vuil soos voor die badpoging! Sy het letterlik toe ek my rug draai, 'n draai deur die grond gemaak  en net vir my kom wys dat alle pogings tot "skoonheid" futiel is. Sy moet dan maar vir die veearts in haar sandjas gaan kuier - dit blyk my dit is haar ware kleure!   

Sunday 16 September 2018

Die bekende dr. Joseph van Douglas

Jane het die Josephs geken, omdat sy ook van daardie wêreld gekom het, maar ek het hom eers heelwat later leer ken.

'n Interessante mens wat sy praktyk baie uniek bedryf het. Hy het sy eie medisyne gemaak (aangesien hy ook aptekerswese tot op 'n punt geswot het, as ek sy vertellinge reg onthou) en hy het veral gespesialiseer in rumatiekmedisyne (in daardie jare het ons na alle gewrigspyne verwys as rumatiek). Dokters van oor die land heen, het hom besoek, selfs Amerikaners het by hom 'n draai gemaak. Ek sou wat wou gee om vandag my hande op daardie botteltjie met pilletjies vir rumatiek te kan lê.

Ek onthou een spesifieke besoek baie goed. Martie (Jane se suster) het by ons gekuier (na Willie se dood) en sy het ook vir haar 'n afspraak by dr. Joseph gemaak. Ek het op daardie stadium gewerk, Jane was 'n tuisteskepper, Martie was op pensioen en Alda was 'n student. Nie een van ons het dieselfde konsultasiefooie betaal nie.

Arm mense het hy verniet behandel en in daardie jare (die laat 70's) het hy reeds sy eie apteek in sy spreekkamer gehad. Sy eie medisynemengsels was wel bekend en gewild en om kostes te spaar, het sy pasiënte leë medisynehouers aangedra, wat hy daardie tyd al herwin het. As ek nou so terugdink, was dr. Joseph 'n milleniumdokter, een wat sy praktyk ligjare die toekoms in bestuur het. Hy was ook so half ouderdomloos. Dit was moeilik om te skat hoe oud hy was, ek vermoed toe ons paaie gekruis het, was hy al 'n hele klompie jare verby aftree-ouderdom.

Een van sy liefdes was skryf. Hy het graag oor mense geskryf, maar nooit hulle identiteit of die Karoodorpies se name bekend gemaak nie. Hy het die boekies wat hy geskryf het, in Engels en in Afrikaans sommer self uitgegee. En toe hy dit wil verkoop, het die Medisyneraad (of wie hulle ook daardie tyd was), 'n netjiese stokkie daarvoor gesteek. Dit het hierdie begeesterde man nie ondergekry nie en hy het hulle vir sy pasiënte uitgedeel wat lief was vir lees.

Ek haal graag uit een van sy boekies aan - 'n treffende begin:

"Die twintigste eeu was maar tien jaar en vier dae oud toe my moeder die lewe aan 'n seun geskenk het. Daardie seuntjie was ek. Vir my ouers was dit 'n dag van besondere betekenis, omdat hulle 'n seun ryker geword het. Lank voor my geboorte het hulle besluit dat as die baba 'n seun is, hulle hom vir 'n dokter sou laat leer. My vader wou baie graag een geword het, maar hy het nie die geleentheid of voorreg gehad nie.

Destyds het honderde mense diamante gedelf, en waar ek gebore is, is duisende diamante uitgehaal. Die klein sinkhuisie waarin ek gebore is, is later afgebreek en  die gruis onder die huis omgekeer. Vier mooi 'klippies' is daar gevind en die geld wat my vader daarvoor gekry het, het die onkoste van my geboorte maklik gedek. Ek is letterlik op diamante gebore! Daardie selfde plasie is vandag my eiendom en weens sentimentele en ander redes kan geld hom nie koop nie.

Toe ek drie jaar oud was, het my ouers besluit om ses maande in die buiteland vakansie te gaan hou. Terwyl ons daar was, het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Ses jaar lank was ons daar vasgekeer en saam met duisende ander het ons byna van honger omgekom. Maande aaneen het ons van gekookte gras gelewe. Vir 'n kort rukkie was ek toegelaat om bloed by die militêre slagpale bymekaar te skraap. Dit het ons gekook en geëet."   

Saturday 8 September 2018

Kobie Linde se dagboek ...

Ek het vanjaar ds. Kobie Linde se boek nadergetrek om stilte uit te hou. Kobie Linde en sy vrou, Engela (die baie bekende skryfster, het vir 6 maande langs ons gebly. Hulle het by Fanie en Henriëtte Vermaak loseer. Dit was November 1960. Hy was op daardie stadium 'n proponent en het sommer gou die bynaam van "Proppie" gekry. Desember 1960 kon ds. Willem Steenkamp met 'n geruste hart vakansie gaan hou, want prop. Linde het as leraar ingestaan en gepreek.

Gedurende hierdie 6 maande het hy aktief saam met ds. Willem in Dutoitspan gemeente gewerk, terwyl hy vir 'n beroep gewag het. Ons het soos goeie bure betaam, oor en weer gekuier. Hy het toe so teen die einde Mei 'n beroep na Kameelboom in die Kalahari naby die grens met Botswana gekry. 'n Hele klompie jare later het sy paaie weer met Kimberley gekruis, toe hy 'n beroep na die NG Gemeente Newton (vandag Kimberley Gemeente) aanvaar het. Hiervandaan is hy na die militêre gemeente in Kimberley as kapelaan beroep, toe Grahamstad en vandaar het hy vir baie jare as kapelaan in Potchefstroom diens gedoen.

Seker maar oor ek die skrywer geken het, dat ek 'n gevoel van heimwee ervaar, elke keer as ek sy dagstukkies lees. Dis asof ek die man hoor - so anders as bv. met ds. Solly se dagstukkie-boeke. 

Tuesday 4 September 2018

My genadeblommetjies!

Deesdae is tuinmaak 'n luukse wat ek nie meer kan doen nie. My hande jeuk om in die tuin te vroetel, maar my vervaldatum vir tuinmaak het helaas aangebreek. Daarom verlustig ek my in al hierdie genadeblommetjies wat hulle bydrae tot kleur in my tuin in hierdie droë seisoen ongevraagd gee.