Flentertjies herinneringe

Hierdie is sulke los herinneringe waaraan ek dink en ter wille van die kleinkinders neerpen, sodat hulle darem kan sien hoe was dinge in die "ou ou dae ..."


Nie lank nadat ons ingetrek het nie, is ek as diaken in Dutoitspan-gemeente gekies. 'n Ene mnr. Gouws wat in Robinsonstraat gebly het, het een middag vir my twee half dooie stokkies gegee en gesê dat ek dit moet gaan plant. Jane het hierdie stokkies so een kyk gegee en besluit hulle gaan dit nie maak nie...

Ek het hulle nietemin in die grond gesit en versorg en tot ons groot vreugde het hulle gegroei en jaar na jaar vir ons bederf met armsvol blomme.

In 1968 het ds. Siebert vir ons gewys hoe om die krismisroos te snoei om tot sy volle reg te kom - baie blomme, maar kleiner of minder blomme, maar groter! Terwyl ek die wingerd gesnoei het, het Jane die krismisroos gesnoei en het ons land en sand gesels. Ons het elke jaar wingerdstokkies en krismisroosstokkies ingelê en uitgedeel aan almal wat wou hê.

En elke jaar was daar genoeg blomme vir ruikers in die kerk vir die Kersdiens, wat dikwels dan na "Ons Huis" (die ouetehuis) geneem is, sodat hulle dit verder kan geniet. Ons is ook met 'n klomp blomme na die begraafplaas toe ... Dan het ons blomme op die tweelinkie se graf gaan sit (hulle is op Kersdag 1958 gebore en oorlede) en sommer dan ook op al die familielede en vriende wat nie meer daar is nie.

Die krismisroos het in 'n hoek gestaan wat aan die straatkant van die huis is ... menigmaal het mense verby gery, foto's geneem, of selfs blomme gevra ... Vanjaar, na meer as 55 jaar van blomvreugde, het die droogte ook hier sy merk gelaat ... Ek wonder by wie ek weer 'n steggie kan kry, om die hoekie in die tuin, weer tot sy reg te kan laat kom!!  

(Foto's by hierdie berig sal jy op die voorblad onder Saterdag 28 Oktober 2017 kry)


Ek en Jane het nog altyd 'n sagte plekkie vir hierdie besondere plant gehad. Selfs in droogtetye het ons rose my altyd "ondersteun.".

Ons het 'n roostuin eers voor in die erf gehad en later na ons sekere verbouings aan die huis gedoen het, het ons dit na die kant van die huis geskuif. Elke jaar, tydens spesiale geleenthede, het hierdie rose hulle kant gebring en kon ek met elke verjaardag, Moedersdag, troudagherdenking en Kersfees vir Jane wakkermaak met 'n roos in 'n potjie! My blommerangskikkingstalente is nie noemenswaardig nie, maar ek het dikwels gehoor hoe sy en haar suster, Minnie, praat van "lyne" of ongelyke getalle ... Dit het ek so af en toe ingewerk in my handewerk as die "blomme-oes" dit toegelaat het. Party datums het nooit binne die roosseisoen geval nie, maar in al my getroude jare, het hulle hul kant gebring.

En toe kom die groot en langdurige droogte, wat party plekke in die Noordkaap nou nog in 'n wurggreep beet het. En die laaste van die roosbome vrek ... hulle wat dekades lank vir ons vreugde verskaf het ... mooi om na te kyk en heerlik om te ruik ...

Van waar die herinnering aan die rose?  Ek het weer so 20 stokkies ingelê ... ek probeer hulle so tussen die Kimberley-hitte deur pamperlang ... Net miskien is ek gelukkig om weer 'n tuin met roosbome te hê! 

(Foto's by hierdie berig sal jy op die voorblad onder Saterdag 21 Oktober 2017 kry)    


Deel van die Vrouesendingbond se fondsinsamelingspoging in die laat jare 60 was om die verversings en kos by die vandisies te voorsien.

Party vroue het kos by die huise gemaak en ander het dáár gaan werk. Jane was o.a. verantwoordelik vir die bruinsous. Hierdie sous is het 'n storie gehad. Ons as 'n gesin het baie Saterdae in die Wimpy 'n vleispastei vir ontbyt gaan eet. Hulle het altyd die heerlikste bruinsous oor hulle pasteie gegooi. En net daar het ons een Saterdagoggend vir Jane uitgedaag om ook sulke sous te maak!

Natuurlik het sy hulle oortref ... Haar geheim het gelê in die uie, gerasperde wortels en knoffel wat sy gebraai het en later is die sous deur 'n sif gegooi. Nooit was die sous vir die vandisiesgangers genoeg nie, 'n groot sopkastrol is later gebruik, maar die boodskap wat na so 'n lang dag, saam met die soushouers afgelewer is, is dat hulle dubbeld soveel sous kon gehad het, want die kopers het altyd teruggekom vir nog ...

Die sous is so baie gemaak by die huis gemaak, dat niemand ooit die bestanddele neergeskryf het nie en vandag dink ek, kan ons nie meer al die bestanddele onthou nie ...

Die pad wat so baie resepte volg!

[https://dutoitspan.blogspot.com/2017/10/die-vandisie-se-bruinsous.html]


Een van my vele wyksinsidente:

Die meeste van die tyd het die kerk probeer om vir 'n diaken 'n wyk so na as moontlik aan sy huis te gee, bloot om dit 'n bietjie meer geriefliker te maak. Maar soms gebeur dit dat jou wyk aan die anderkant van die gemeente lê. Een van my wyke wat ek op 'n stadium gehad het, was deur die duikweg. (So terloops, wanneer dit baie in Kimberley gereën het, was hierdie duikweg gou-gou vol water en moes die inwoners 'n ompad ry om by hulle huise uit te kom.)

Ek besoek ook sommer die nuwe intrekkers en nooi hulle uit na die eredienste. Hierdie nuwe intrekkers laat my toe duidelik verstaan dat omdat hulle attestate nog in Barkly-Wes is, hulle nie geld vir dié gemeente kan gee nie ... Nodeloos om te sê dat hulle nooit iets vir die kerk bygedra het nie.


Jane-hulle was vyf susters. En elkeen van hulle het 'n kunstalent gehad, van kleremaak tot bak. Haar ousus het egter kunstalente in oorvloed gekry en kon alles doen. Jane het altyd vertel dat hulle as meisiekinders in die huis moes werk en die seuns moes water aandra van die rivier af en hout kap vir die koolstoof. Die susters het beurte gemaak en elke week het hulle geruil. Een week was die een wat in die kombuis gewerk het, verantwoordelik vir die skottelgoed, die een wat in die eetkamer gewerk het, moes blomme rangskik vir die etes, tafel dek en afdek, servette moes op allerlei maniere gevou word en die eetkamermeubels moes geolie word. Ek onthou eintlik net wat die een in die eetkamer moes doen, want dit was Jane se gunstelingwerk. Hulle ma was baie kunstig (sy was 'n musiekonderwyseres voor haar troue, sy kon klere maak, koekies bak, blomme rangskik, mooi sing en mooi teken) en al hierdie dinge het sy vir haar kinders geleer.     


Beide ek en Jane was lief vir tuinmaak en blomme. Jane was baie lief daarvoor om blomme sommer so natuurlik in 'n pot in die huis te sit. Ons huis was nooit sonder blomme nie. En as daar nie baie blomme was nie, was daar altyd 'n klein potjie met 'n enkele roos op die kombuistafel. Sy was lief om die natuur ook in die huis te bring. En as daar nou werklik geen blomme was nie, het sy 'n loofruiker gemaak. Dit was een van my groot gunstelinge en daarom het ek 'n verskeidenheid plante in die tuin geplant, sodat sy haar geliefde loofruikers kon maak. 'n Ander belangrike aspek van die loofruikers was dat hulle baie langer as die blomruikers gehou het. 

Sy het altyd gesorg vir die ruikers in die kerk. Later het sy en Carina van Lingen (Badenhorst) beurte gemaak. Meer as een Sondag moes Michael, my buurman, kom help om daardie groot rangskikkings in die Volksie te laai. Dit was geen maklike taak nie, maar dit was altyd 'n plesier. Dit was haar bydrae tot die erediens. En daarna het ons altyd die ruiker na Ons Huis, die ouetehuis om die hoek gevat, sodat hulle ook die mooi van die blomme kon ervaar. Dit was nooit nodig vir die kerk om ooit te begroot vir blomme as hulle 'n funksie aanbied of met 'n predikant se ontvangs of afskeid nie - dit was 'n ongeskrewe "reël" dat Jane sou sorg vir die ruikers. 

Sy het ook die kinders leer skouerruikers maak. Hulle het skeurlint in dun repies geskeur en dan krulle getrek met die skêr. Varingblare (al die soorte) het die basis gevorm. Ek het aan die agterkant van die krismisrose varings geplant - dit was lekker koel daar en hulle het floreer. Baie van daardie varings het nog van Joey Diedericks (Jane se suster) af gekom. 

Ek onthou een insident wat Jane vir my vertel het wat een Vrydagmiddag gebeur het. Ronell was nog baie klein (nog nie in die skool nie), dus moes Alda so sub B of standerd 1 gewees het. Alda was in die Kinderkrans en het altyd saam met Cillie Doman (ons bure skuins agter) en haar kinders gegaan. Dié spesifieke dag moes hulle 'n tuisgemaakte kaartjie met 'n Bybelversie en 'n blommetjie saambring, want hulle gaan die ou mense by die ouetehuis besoek. Daar was geen ander blomme as "stink Afrikaners" nie en omdat hulle nie eintlik 'n steel gehad het nie, het sy 'n skouerruiker daarvan gemaak. Daar moes mooi verduidelik word dat hierdie blomme regtig nie gekik is vir skouerruikers nie en dat dit mense hooikoors gee. Ek kan nie meer onthou wat as plaasvervanger gedien het nie. 



Eerste diaken:

Die finale jaar katkisante van 1973 moes 'n toets skryf om hulle kennis van die Bybel te toets. Een van die toetsvrae was: "Wie was die eerste diaken?"

En die enigste diaken aan wie een van die innoverende katkisante kon dink, was oom Schalk Pienaar (op daardie stadium die hoofdiaken van die gemeente en dienende van 1959, dan raak dit half te verstane ...)

Ek het nooit my aantal jare wat ek op die kerkraad gedien het, ooit bymekaar getel nie, maar ek kan nie onthou dat ek ooit saam met Jane en die kinders in die kerk gesit het nie, behalwe met Kersdiens en ander spesiale geleenthede waar die kerkraad by hulle gesinne kon sit. Dis eers hier in my senior jare, dat ek die kerkraad vanuit my bank dopgehou het. As ek so terugdink, dan was dit wonderlike jare. Ons het aktief gewerk, was 'n heerlike span mense en die gees het deurgesuur na basare en ander kerkfunksies. Die kerkraad het dan op 'n stadium selfs konsert gehou vir fondsinsameling in ds. Willem Steenkamp se tyd. Ek het breedvoerig daaroor geskryf op die kerk se blog.


Hoe het ek in die pos as kassier en later as skriba-kassier beland?

Ons het in Julie 1958 in Dutoitspan-gemeente ingetrek. Nie lank daarna nie, het ds. Smit na Kaapstad as argivaris na Kaapstad vertrek. Ds. WJ Steenkamp het hom as predikant opgevolg toe hy die beroep na Dutoitspan-gemeente aanvaar het. Hy het van Olifantshoek af gekom en hy het sy intreepreek op 5 Februarie 1960 gegee - my verjaardagdatum!!

Die kassier op daardie stadium was mnr. Andries Combrinck. Hy was kassier van 1957 tot 1960. Hy word skielik verplaas en mnr. Saly Beukes neem as kassier oor. Ongelukkig kon hy net 'n paar maande aangaan, tot Junie 1961, toe hy ook verplaas word. Die skriba- en kassierwerk is deeltyds gedoen deur werkende persone, sodat die kerk nie 'n salaris aan die persone hoef te betaal nie. Hulle het slegs 'n honorarium gekry. Dutoitspan was nog nooit 'n ryk gemeente nie en moes in die verlede, net soos nou, sy sente omdraai om al die gate toe te stop.

Ds. Steenkamp het my genader en gevra of ek bereid is om oor te neem as kassier, aangesien ek op daardie stadium die enigste een in die gemeente is, wat 'n boekhouer was. Vir elke verskoning wat ek gemaak het, het hy 'n oplossing gehad. Op die ou end is ek sedert Julie 1961 in die pos aangestel en moes ek myself leer wat aangaan. My salaris was vir baie lank R15,00 (7 Pond 10) 'n maand, maar ek het dié werk met groot liefde gedoen.

Op daardie stadium was mnr. Piet Labuschangné, 'n onderwyser van beroep, die skriba van Augustus 1955. Na sy dood, het ek ook dié werkie gedoen. Tot en met 2011 was ek die skriba-kassier en het saam met verskeie predikante saamgewerk. Elmie Bean het by my oorgeneem as skriba.

As ek vandag terugkyk oor 'n leeftyd van diens, dan besef ek dat alles net genade is. 'n Liefdeswerk wat ek vir 55 jaar gedoen het.


Ek het nog altyd daarvan gehou om te sing. En volgens die orrelis, mev. AR van der Westhuizen het ek 'n pragtige stem (gehad). Dink nie dit klink nog dieselfde as 50 jaar terug nie. Sy wou altyd gehad het ek moet koor sing. Dit was nou nie eintlik deel van my plan nie en gelukkig het sy een vereistes gehad vir haar koorlede en dit is dat almal bladmusiek moet kan lees. En daar red my musiekongeletterdheid my ... ek kan nie bladmusiek lees nie!

Ek en Jane het altyd in die kar gesing as ons êrens heen ry - nogal in stemme. Jane kon net so mooi sing. Ek het meestal die wysie gesing en sy moes al die ander stemme inpas. Op pad see toe, het ons die FAK, die Halleluja-boek en selfs die verskillende skoolliedere gesing. Daarom dat ons kinders De Aar se laerskoollied ken, al het hulle nog nooit eers hulle voete daar gesit nie. 

Miskien het ek my liefde vir musiek van my ma ('n nooi Van der Merwe) gekry. Sy kon die harp baie pragtig bespeel. Tot my groot verdriet het my stiefma ontslae geraak van die harp - ek wonder of dit ook op die ashoop beland het, soos so baie van my ma se kosbare artikels.  


2011 het die gemeente vir my 'n geselligheid gereël vir 50 jaar diens. Dit was nie 'n maklike funksie nie, want Jane het al die jare sy aan sy saam met my gewerk. En toe was sy nie meer daar om saam met my die dankie sê-funksie te kon bywoon nie. Hulle het regtig moeite gedoen en ek het dit waardeer. Een van die groot verrassings was ds. Groenewald, 'n gemeenteseun, wat in my Sondagskoolklas was en spesiaal die funksie kom bywoon het. Hy het weereens vir my vertel en dankie gesê vir die wyse waarop ek die Sondagskoolklasse aangebied het - dit was een van die redes waarom hy admissie gaan swot het. Die daaropvolgende week het hy Kaap toe getrek ... as pensioenaris!!!

Foto's is HIER.


Die huis soos dit nou lyk, het met verloop van jare verander. Die eerste verandering was om 'n sitkamer aan te bou. Die huidige eetkamer was altyd die sitkamer. En na vele oorweging besluit ons om 'n ekstra vertrek aan te bou. Tipies soos dit met alle aanbouings gaan, kry die bouers nie klaar met bouwerk, voordat hulle vir die kersfeesvakansie moes sluit nie - en dit nadat hulle hand en mond belowe het alles sal so wees, dat dit ten minste veilig sou wees. Die vensterrame het nie ruite ingehad nie en die muur wat tussen die sitkamer en eetkamer uitgebreek is, het toe nie die glaspaneel ingehad soos die ooreenkoms was nie. Ons het maar sinkplate voor die vensters gepak en vasgemaak en ander derglike veiligheidsplanne gemaak, want vir alle praktiese doeleindes kon mense in en uit die huis stap. Ek sidder as ek dink dat ek vandag in so 'n oop huis moet slaap. 

Vir Kersfees het ons die tuinstel en kombuisstel in die vertrek gepak en dit baie mooi versier met 'n kersboom, plante en veral kerse. Ons het vir Frik-hulle genooi vir kersfees en Jane het haarself oortref met 'n ongelooflike kersete.  

As ek nou so deur die Sarie en Rooi Rose op my tablet blaai (Dankie, Henry, dat jy my ingeteken het op Media24) besef ek dat Jane haar tyd 40+ jaar vooruit was. Om in 'n onvoltooide vertrek 'n kersete te gee, het die kontras versterk - maar in daardie tyd is daar nie so daarna gekyk nie. 

Ek onthou hoedat sy die wit kerse (dit was al wat daardie jare beskikbaar was) in die son laat lê het en as hulle goed warm was, het sy hulle in blinkertjies gerol. Die blinkertjies het sy op 'n ou koerant gestrooi en dan die kerse daarin gerol. Daarna was dit yskas toe met die die kerse. In ons huis was daar altyd rooi, groen, silwer en goue blinkertjies. Dit is op kaartjies gebruik, die kinders se gesigte is daarmee opgemaak vir kinderkrans- en skoolkonserte. 

Kersligetes was nie beperk tot spesiale dae nie -  ons het gereeld by kerslig geëet. Vandag nog staan daar na al die jare die kerse wat sy gebruik het, in die eetkamer. 'n Stille getuienis van iemand wat van elke maal 'n geleentheid gemaak het.