Monday, 31 December 2018

Wednesday, 26 December 2018

Die rooi reëngogga ...

Ek en Yvonne van der Walt in
die 1936-Morris, terwyl Chris
van der Walt die foto
geneem het.
As jong man het ek 'n 1936-Morris gehad ... een met 'n afslaankap, wat ek by 'n mnr. Sudderland gekoop het. As ek so deur die strate gery het, het die wind deur my hare gewaai; daardie jare het ek nog hare gehad. Dié motor het ongelukkig nie lank gehou nie en indien ek daardie bedrag geld belê het, soos wat 'n vriend my geadviseer het, was ek baie beter daaraan toe - almal van ons betaal maar op een of ander manier skoolgeld.

Na ons troue het ons maar met dapper en stapper oor die weg gekom. Gelukkig was die openbare vervoer daardie tyd totaal anders as wat vandag die geval is en ons het baie van busvervoer gebruik gemaak.

Dis die jaar 1963.

Fairy Ferreira (dit was sy bynaam na aanleiding van sy van) was 'n jong man wat in dieselfde kantoor as ek gewerk het en hy wou daardie jaar trou. Maar hy het nie geld gehad vir die troue nie en besluit toe om sy kewertjie te verkoop. Hy vra toe maar vir almal in die kantoor of hulle nie belangstel of van iemand weet  wat belangstel om sy rooi Volkswagen te koop nie. Omdat hy weet dat ek op daardie stadium nie 'n kar gehad nie, kom hy spesifiek na my toe en vra of ek nie belangstel nie. Alda was op daardie stadium 3 jaar oud en ek was te bang dat as ons 'n karpaaiement, saam met die huispaaiement het, sal ek dalk nie alles vir my kind kan bekostig wat nodig is nie.

Op daardie stadium het Jane se oudste suster by ons gekuier en ek vertel hulle die middag van die rooi kewertjie. Ousus sê dadelik dat dit 'n een-maal-in-'n-leeftyd-kans is, en dat ons die karretjie moet koop. Ek en Jane het ons begroting uitgewerk en dan sien ons dat ons dit net-net nie gaan maak nie. Dan sê Ousus: "Gaan terug en werk weer aan julle begroting, ek sal bid."

En so het die rooi kewer (1957-model) in ons besit gekom en Fairy Ferreira het 'n heerlike troue gehad.

Ek het elke Saterdag hierdie kewer gewas en dan het ek gewone Kobra-politoer opgesit en met "elbow ghries" dit blink gevryf. Dan het ons vir die plesier 'n draaitjie in die dorp gaan ry. En feitlik sonder uitsondering het daar 'n reënbui op hierdie skoon karretjie uitgesak, sodat ons later na die kar as die rooi reëngogga verwys het.

Ons het die Volksie so Januarie 1963 gekoop en my vakansie was daardie Februarie. Ons het vir ons plek in Snyman se losieshuis in Oos-Londen bespreek. (Daardie jare was daar nie gastehuise nie, maar die geriewe was maar dieselfde - party losieshuise sou egter baie meer sterre gekry het as ander.) Ouderling Hawie wat in ons gemeente was, was net die vorige maand daar met vakansie en het net lof vir die plek gehad.)

Aanvanklik het ons gedink om met die Volksie see toe te gaan, maar omdat ons nie die nukke en grille van die tweedehandse motor geken het nie, het ons daarteen besluit en met die trein gegaan. Alda het haar 3de verjaardag in Oos-Londen gevier. 

(Hierdie foto's is van die internet - makliker om in die hande te kry, as om deur ou albums te blaai om 'n foto te soek en dan te "scan". Daardie ou Volksie het nog 'n klein agterruitjie gehad.)

Monday, 24 December 2018

Saturday, 22 December 2018

Moenie te lank kuier nie ...

Name van my kleintyd wat heerlike herinneringe in die Murraysburg-distrik oproep is name soos Kapoksfontein, Swaelkrans, Hartebeesfontein, Noupoort, Spitskop en die Sneeuberge. Wat my die helderste voor gees staan, is die rondloop in die veld, die diere en die koppies in die omgewing wat ons uitgeklim het. 

Ek het my oupa Jan leer ken, toe hulle reeds dorpenaars was. Hy het op die plaas Swaelkrans grootgeword. Maar ek het die plaas leer ken toe sy skoonseun, oom Alwyn van der Merwe saam met sy vrou, tannie Stompie, op die plaas Swaelkrans geboer het. Daar was meer as een tannie Stompie in ons familie, so ons het na haar verwys as tannie Stompie Swaelkrans.

Voordat 'n mens Swaelkrans se hek gekry het, was daar oom Willie Pienaar (my pa se neef) se plaas, Hartebeesfontein. As ons die rondte van Vader Cloete by die familie gemaak het, het ons eers by oom Willie-hulle gestop en daar gekuier. Daarna het ons by my pa se suster, tannie Stompie-hulle, gaan kuier. Ek onthou oom Alwyn en sy ongetroude broer, oom Bennie, wat op daardie stadium by hulle op die plaas gebly het, as baie vriendelik, bedagsaam en hulpvaardig. Ons het altyd heerlik daar gekuier en op pad terug De Aar toe, het ons net gou by Richmond gestop om by vriende van my pa te gaan kuier. Alhoewel my pa daarvan gehou het om by vriende en famlie te gaan kuier het, het my pa 'n beleid gehad om nie lank by mense te kuier nie. Hy het geglo dat hulle nooit moet wens dat jy moet ry nie.

Hierdie beleid kom van sy pa, my oupa Jan af: "Mense moet nog verlang na jou, dan moet jy al op pad wees." Dit is 'n siening wat ek my hele lewe deur gehandhaaf het.   

Thursday, 13 December 2018

Heerlike heuning - die goue stroop van die veld

Deesdae is heuning 'n luuksheid en binnekort 'n "skaarsheid" as ek sien hoe die arme heuningby teen al die elemente om oorlewing moet veg. Geen maklike taak vir 'n by nie!

Ons het 'n laning turksvye aan die straatkant van die erf gehad en voor hierdie laning het drie byekorwe gestaan. Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar daardie jare was die bye meer "mensvriendelik." My pa het nie die bye uitgerook of 'n beskermingspak aangetrek as hy die heuning gaan uithaal het nie. Slegs met 'n net oor sy gesig, het hy skottels vol heuningkoeke uitgehaal. En dan het hy die heuningkoeke in skottels gesit, sodat die heuning kon uittap.

Ek herinner my ook 'n keer dat hy by 'n reeks koppies naby die meent waar die diere bedags gewei het, heuning tussen die klippe uitgehaal. Dit was wilde bye en hy het geen probleme ondervind nie. As ek vandag terugdink met hoeveel gemak hy dit gedoen het, wonder ek hoekom vandag se bye so aggressief is?

Hierdie veldheuning het 'n besondere smaak gehad en vandag besef ek hoe bevoorreg ons was om die goue nektar daagliks op ons etenstafel te kon hê.

Oom Koos Boudjies van Murraysburg

Ons het baie vakansies by my oupas en oumas in Murraysburg gaan kuier. Daar was regtig baie om te doen. Hannes Venter, ons bure se seun op De Aar, het soms saam met ons gegaan, want sy laatlamsussie was meer as 15 jaar jonger as hy, as ek reg onthou. Dus was hy maar soos 'n enigste kind wat meer by ons was, as by sy eie huis.

My oupa-hulle het 'n hoekhuis in die hoofstraat gehad, 'n taamlike groot erf, want hy het ook 'n werkswinkel op dié erf gehad. In daardie jare was daar nog buitetoilette en dit was 'n hele ent van die huis af. Oom Koos Boudjies, met sy perdewa, was die man wat verantwoordelik was vir die "nagkar". Omdat ons nie in Murraysburg gebly het nie, maar net baie daar gekuier het, weet ek glad nie wat Koos Boudjies se van was nie. Die omie was kort en ek lei af dat dit aanleiding gegee het tot sy bynaam.

Wednesday, 12 December 2018

Klein broer-beserings ...

As ek so terugdink aan my kinderjare, dan was ons regtig kreatief besig. Ons was aktiewe seuns wat moeg was aan die einde van 'n dag. Buiten tuinwerk (waarvoor ons aldrie lief was), ons talle diere wat ons moes versorg het en ander huishoudelike takies, moes ons ons tyd vir speel tot die maksimum gebruik het. 

Ek onthou dat ons sulke blik vlieëspuite gehad het. Een dag het Piet die spuit geloop en swaai, en of hy water daarin gegooi het om 'n bietjie meer momentum te kry, kan ek nie onthou nie, ek weet net dat ek agter hom geloop het ... maar nie vir lank nie. Daardie spuit het my in een van die swaaibewegings teen my kop getref, dat die bloed geloop het.   

My ma het die wond skoongemaak en die bloed gestop, diep dankbaar dat ek nie uitgeslaan is of harsingskudding opgedoen het nie. Vir baie lank het ek met die knop teen my kop geloop.

(Ek het 'n foto van so 'n vlieëspuit gegoogle, sodat my kleinkinders darem 'n idee het waarvan hulle oupa praat.) 

Tuesday, 11 December 2018

"Kom ons gaan kuier vir my juffrou ..."

Vir ons as kinders was dit altyd snaaks as my pa sê dat ons vir sy juffrou moet gaan kuier ... In ons verwysingsraamwerk as laerskoolkinders gaan kuier 'n mens nie vir jou juffrou nie!

My pa was op Murraysburg op skool. Sy een juffrou was mev. Myburg, maar wat haar nooiensvan was, weet ek glad nie. My pa is in 1902 gebore, dus was hy seker gedurende 1908 - 1913 in die laerskool. Sy juffrou was getroud met 'n plaasboer in die omgewing van Hanover en baie jare later het hulle vriende geword. Ons het vir hulle op die plaas gaan kuier en hulle het weer op hulle beurt vir ons in De Aar kom kuier. Hulle het twee seuns en 'n dogter gehad, wat selfs nadat hulle klaar met skool was, vir ons kom kuier het. Hulle dogter is met 'n ene Van der Merwe van De Aar getroud. Ons het kontak met hulle verloor toe hulle Pretoria toe getrek het.

Een spesifieke kuier staan my nog helder voor gees. My oudste broer was nie baie lus vir die plaaskuier nie, maar in daardie jare het ouers nie met kinders onderhandel nie en moes hy teen wil en dank saam. Hy het egter 'n fiets in die hande gekry en die hele ent pad van Hanover tot in De Aar gery - hierdie 45 km was daardie jare grondpad! Dat dit 'n uitputtende rit moes gewees het, het hy egter nooit teenoor iemand erken nie!

Saturday, 8 December 2018

'n Tiener se onbeplande Desembervakansie ...

Almal beplan aan hulle Desembervakansie en kinders wonder hoe hulle hul vakansies gaan deurbring. Deesdae, so hoor ek maar, is kinders net op hulle slimfone, rekenaars en voor TV's. Daar word na skermtyd verwys en die voordele en nadele daarvan word in artikels, radioprogramme en TV-programme bespreek. Teen die tyd dat die geleerders antwoorde en uitsluitsel het, is 'n hele geslag kinders daardeur beïnvloed.

Ons vakansies, toe ons kinders was, was meer aktief soos dit maar in daardie jare die geval was en natuurlik was speel heel boaan die lysie. Een spesifieke Desembervakansie kan ek egter goed onthou, omdat dit nie gewone patroon gevolg het nie. Albei my ouers was in die hospitaal, vir 'n week as ek reg onthou, dit kan selfs langer wees ... dalk korter, maar as jy 'n kind is, voel dit in elk geval baie lank. My ma het onder andere hartprobleme gehad en was glad nie gesond nie. Snaaks genoeg is my pa aan 'n hartaanval oorlede - so "slegte" harte is so half en half 'n familiekwaal!

Altwee my ouer broers het al gewerk. Broer Piet het afloswerk in Kimberley gedoen. Ek was dus aan stuur van sake by die huis. Op daardie stadium het ons koei gekalf en ek kon haar glad nie by die meent kry waar hulle bedags gewei het nie. Dan moes ek nog besoektye betyds by die hospitaal wees, met skoon nagklere (só "aan stuur van sake" het natuurlik die daaglikse was en stryk van pajamas ingesluit). Tipies van my ma wat altyd ander probeer help het, het sy besef dat mev. Gainsford, wat saam met haar in die hospitaal is, se seuntjie, heelwat jonger as ek, alleen by die huis is, as sy pa by die werk is (haar man het by die tydkantoor van SAS & H gewerk en het skofte gewerk) en so land die outjie se versorging (kosgee en oppas) ook sommer op my skinkbord.

As ek vandag daaraan terugdink, was dit nogal 'n besige Desembervakansie vir 'n veertienjarige wat geeneen van bogenoemde op sy lysie gehad het nie. 

Thursday, 6 December 2018

Murraysburg - 'n juweel

Wat 'n aangename verrassing toe ek die verwysing na my blog op Murraysburg se FB-blad kry. Ek reis deesdae selektief op my tablet en in my geheue, wat uit die aard baie voordele vir my inhou - dit is fisies minder uitputtend, die hoë brandstofrekening voel ek nie aan my sak nie en die verval van dorpies en paaie is nie so 'n sigbare seeroog vir my nie. Natuurlik het hierdie manier van reis ook nadele, maar daarmee moet ek maar vrede maak - op 87 besluit jou lyf vir jou wat jy kan en nie meer kan doen nie.

Ek lees van die Karoo Stilfees wat eersdaags weer in Murraysburg plaasvind en ek kan nie aan 'n beter plek dink as die populierbos om dit te doen nie. Ek staan verstom oor al die aktiwiteite wat daar in dié dorpie aangepak word en ek besef duidelik, jou dorp is wat sy inwoners bereid is om in te sit ... Is ons maar nie almal rentmeesters nie?

Ek plaas graag die volgende adresse om 'n bietjie deur die wêreld te reis waar menswees 'n verskil maak.


  
  
  
https://www.countrylife.co.za/travel/making-it-in-murraysburg

Tuesday, 4 December 2018

My hart-GPS ...

Foto: René Theron (renetheron@mweb.co.za)
As iemand vir my vandag moet vra watter een plek in Suid-Afrika vir my besonders is, en ek mag net een antwoord gee, dan sal ek vir my 'n dorp in die Karoo kies...

Die Karoo waar 'n mens die waarde, die belangrikheid en die diepte van menswees leer ken het. 'n Mens is geneig om die plek waar jy grootgeword het, te idealiseer en onmiddellik is dit die dorpsnaam wat ek wil gee. Maar ek het die groot fout gemaak om onlangs my grootworddorp weer te besoek... Gate, rommel, stukkende pype, omgestote grafstene, met beeste wat tussen die graftes loop en stukkende en vervalle geboue ... Ek was verslae en geskok. Die agteruitgang van die dorp is 'n skreiende skande. En ek trek onmiddellik die naam De Aar in my gedagtes dood.

Gelukkig kan ek met groot lekkerte aan Murraysburg terugdink. Ek sal die koördinate van Murraysburg gee as my hartsdorp. Die dorp waar my oupas en oumas van pa en ma se kant af geboer het. Waar kindertyd se speel in die strate, op koppies en tussen rante nog 'n glimlag op my gesig sit, want ek het ook hierdie dorpie besoek en ek kon my kleintyd se voetspore vind ... 

Monday, 3 December 2018

Fiemies of bloot net grillle ...

Ek het 'n hele paar fiemies ... miskien sou party mense gesê het dat dit bloot grille is, maar ek dink meer in die lyn van dat ek kieskeurig is!

'n Mens kan keuses in die lewe uitoefen en ek is kieskeurig oor watter kos ek eet, hoe kos gaargemaak word en of troeteldiere binne of buite die huis moet wees ... dis om maar enkeles te noem.

Die teenstrydighede in my fiemies is nogal ironies ... soort van tong-in-die-kies, indien dit op die keper beskou word.

Ek eet nie volstruissteak nie, maar volstruisbiltong is bo-aan my biltonglysie! Ek het glad nie kerrieafval geëet nie (die naam het vir my genoeg gesê), maar ek was baie lief vir die klein aartappeltjies wat my ma saam met die afval gekook het. Ek eet pap, maar net in die oggend, definitief nie saam met my braaivleis in die aand nie. So, die braaivleis-en-pap-gedagte staan my glad nie aan nie.

Ek is liewer vir sout as vir soet - sal eerder my skorsies op die vleis gaarmaak, as om botter en suiker daarin te gooi. Ek is byvoorbeeld baie lief vir souttert. Mev. Maritz, een van Jane se groot vriendinne, nooi ons een Saterdagmiddag vir koek en tee met haar verjaardag. Daar was 'n hele klompie mense daar en sy weet dat ek van souttert hou. Sommer met die intrapslag skep sy vir my 'n ruim porsie souttert in en tot my groot ontsteltenis vind ek uit dat dit aspersietert was!! Ek hou niks van aspersies nie en sit my mond nie daaraan nie! Ek het egter geen keuse as om dit af te wurg nie en toe ek met groot dankbaarheid die laaste happie in my mond steek, staan sy reg om vir almal 'n tweede rondte lekkernye in te skep en op my bordjie land 'n tweede skeppie "souttert"...