Showing posts with label Jane Pienaar. Show all posts
Showing posts with label Jane Pienaar. Show all posts

Monday, 1 April 2019

Oom Schalk ...

Vir so lank as wat ek kan onthou,
was ek deel van die gesin -
Tannie Jane was my peetma
en oom Schalk was my peetpa.
Ek was strooimeisie,
Ek was 'n loseerder
en ek het soms doeke omgeruil!

Ek kan en ek wil graag getuig dat
oom Schalk 'n man van integriteit was,
van onberispelike karakter.
Maar bo alles, was hy 'n opregte kind van God
wat sy Christenskap uitgeleef en uitgestraal het.
Hy het op talle maniere, groot en klein,
die wêreld waarin hy beweeg het, 'n beter plek gemaak.

Hy was altyd die sagte bedagsame gentleman;
hy het alle mense met respek behandel,
daarom is hy oral gerespekteer.

Hy was die rolmodel-eggenoot,
hy was die rolmodel-vader en
hy was die rolmodel-oupa.

Hy is, soos ons almal, met 'n doel en 'n rede
in God se skepping geplaas -
hy het sy taak voltooi en ons gun hom
die rus wat hy verdien, al is ons harte stukkend.

Hy het té veel mense se lewens geseën en
aangeraak om ooit vergeet te word.
Vir solank as wat ons sal lewe en onthou,
sal hy by ons wees.

Vir my was dit 'n eer en 'n voorreg om vir
soveel jare deel van sy lewe te kon wees,
dit het 'n beter mens van my gemaak.

Ons gaan hom mis -
Oom Schalk, ek mis alreeds ons gereelde
telefoonkuiertjies;
Sondagaande sal nooit weer dieselfde wees nie.

Rus sag, my spesiale oom, totdat ons eendag weer
ons geselsies en grappies kan voortsit.

Meisie de Koker

Wednesday, 26 December 2018

Die rooi reëngogga ...

Ek en Yvonne van der Walt in
die 1936-Morris, terwyl Chris
van der Walt die foto
geneem het.
As jong man het ek 'n 1936-Morris gehad ... een met 'n afslaankap, wat ek by 'n mnr. Sudderland gekoop het. As ek so deur die strate gery het, het die wind deur my hare gewaai; daardie jare het ek nog hare gehad. Dié motor het ongelukkig nie lank gehou nie en indien ek daardie bedrag geld belê het, soos wat 'n vriend my geadviseer het, was ek baie beter daaraan toe - almal van ons betaal maar op een of ander manier skoolgeld.

Na ons troue het ons maar met dapper en stapper oor die weg gekom. Gelukkig was die openbare vervoer daardie tyd totaal anders as wat vandag die geval is en ons het baie van busvervoer gebruik gemaak.

Dis die jaar 1963.

Fairy Ferreira (dit was sy bynaam na aanleiding van sy van) was 'n jong man wat in dieselfde kantoor as ek gewerk het en hy wou daardie jaar trou. Maar hy het nie geld gehad vir die troue nie en besluit toe om sy kewertjie te verkoop. Hy vra toe maar vir almal in die kantoor of hulle nie belangstel of van iemand weet  wat belangstel om sy rooi Volkswagen te koop nie. Omdat hy weet dat ek op daardie stadium nie 'n kar gehad nie, kom hy spesifiek na my toe en vra of ek nie belangstel nie. Alda was op daardie stadium 3 jaar oud en ek was te bang dat as ons 'n karpaaiement, saam met die huispaaiement het, sal ek dalk nie alles vir my kind kan bekostig wat nodig is nie.

Op daardie stadium het Jane se oudste suster by ons gekuier en ek vertel hulle die middag van die rooi kewertjie. Ousus sê dadelik dat dit 'n een-maal-in-'n-leeftyd-kans is, en dat ons die karretjie moet koop. Ek en Jane het ons begroting uitgewerk en dan sien ons dat ons dit net-net nie gaan maak nie. Dan sê Ousus: "Gaan terug en werk weer aan julle begroting, ek sal bid."

En so het die rooi kewer (1957-model) in ons besit gekom en Fairy Ferreira het 'n heerlike troue gehad.

Ek het elke Saterdag hierdie kewer gewas en dan het ek gewone Kobra-politoer opgesit en met "elbow ghries" dit blink gevryf. Dan het ons vir die plesier 'n draaitjie in die dorp gaan ry. En feitlik sonder uitsondering het daar 'n reënbui op hierdie skoon karretjie uitgesak, sodat ons later na die kar as die rooi reëngogga verwys het.

Ons het die Volksie so Januarie 1963 gekoop en my vakansie was daardie Februarie. Ons het vir ons plek in Snyman se losieshuis in Oos-Londen bespreek. (Daardie jare was daar nie gastehuise nie, maar die geriewe was maar dieselfde - party losieshuise sou egter baie meer sterre gekry het as ander.) Ouderling Hawie wat in ons gemeente was, was net die vorige maand daar met vakansie en het net lof vir die plek gehad.)

Aanvanklik het ons gedink om met die Volksie see toe te gaan, maar omdat ons nie die nukke en grille van die tweedehandse motor geken het nie, het ons daarteen besluit en met die trein gegaan. Alda het haar 3de verjaardag in Oos-Londen gevier. 

(Hierdie foto's is van die internet - makliker om in die hande te kry, as om deur ou albums te blaai om 'n foto te soek en dan te "scan". Daardie ou Volksie het nog 'n klein agterruitjie gehad.)

Wednesday, 28 November 2018

Blomme - die gebaretaal van die natuur ...

Jane was haar lewe lank baie lief vir blomme. Blomme in die tuin, blomme in potte orals in die huis, blomme aan etenstafel en blomme wat spesiaal gerangskik is vir die ouetehuis, wat gou omgevat moes word, sodat die inwoners die oorvloed kleur kan geniet.

Sy het dikwels vir die kerkeredienste blomme rangskik en dan is daardie ruiker na die diens na Ons Huis, die ouetehuis, gevat sodat hulle dit ook kan waardeer. Sy het dikwels vir sinodesittings hulle groot ruikers en tafelruikers gedoen, omdat sy dit vir die liefde van die saak gedoen het en dit hulle niks gekos het nie. Groen loof het sy uit ons tuin, die kerk se tuin, Baby van Lingen en Ons Huis se tuin gekry as dit vir sulke groot geleenthede was. Ons het dikwels plante geplant net vir hulle loofwaarde. Sy moes dikwels skouerruikers maak en selfs die kinders was later bedrewe hierin.

En as sy nie blomme rangskik of geskilder het nie, het sy dit gepars en die mooiste kaartjies gemaak, wat mense dikwels geraam het. Haar motto in die lewe was dat mense vir mekaar blomme moet gee terwyl hulle nog lewe. Sy het so dikwels gesê dat sy nie blomme op haar graf wil hê nie en 'n plastiese blom het haar glad nie aangestaan nie ... Op 'n stadium was plastiese blomme "hoog mode" so in die jare 70 as ek reg onthou, en sy het so dikwels daarna verwys en dan die lewensles na die mens deurgetrek en na die waardeloosheid en die geveinsdheid van die mens verwys.

Sy het 'n hele klomp spesiale blomme gehad, waarvan 'n krismisroos baie hoog op haar lysie was. Ook kosmosse was 'n groot gunsteling. Ons het al die kleure kosmosse in die tuin gehad en haar groot vreugde was om bottels vol gemengde saad in die veld oorkant die huis te saai, en gedurende die lente die spatsels kleur in die veld te waardeer. 

Saturday, 30 June 2018

Monday, 8 January 2018

Interessante berekenings...

The rand is currently enjoying one of its longest winning streaks since 2002, with the currency trading at R12.37 to the dollar on Monday, 8 January.

This means that those looking to travel internationally may find that they will be getting the best bang for their buck right now. BusinessTech looked at what R100 can get you at current prices around the world:
  • UK: £5.96
  • USA: $8.08
  • Australia: AU$10.30
    So 'n terugblik op ons vlug Kaap
    toe in 2005 vir 'n kort vakansie
    in Gordonsbaai. Ek, Jane en 
    Alda. Die fotograaf was Henry!!
  • Germany: €6.73
  • Brazil: R$26.1
  • China:  52.36 Yuan
  • Dubai: 29.67 dirham
  • Canada: C$10.03
  • Thailand: 263.15 Baht
The prices below are not meant to demonstrate purchasing power parity and do not serve as an equal-weighted price comparison – it is simply a guide on how South African travellers should budget, should they want to engage in ‘leisure’ activities while touring.



















[https://businesstech.co.za/news/finance/218267/heres-
what-r100-buys-you-around-the-world-right-now-2/]

Ek bly maar lief vir syfers... Maar miskien is die heel beste
op hierdie stadium vir my om maar te bly waar ek is.

Saturday, 21 October 2017

Rose

Ek en Jane het nog altyd 'n sagte plekkie vir hierdie besondere plant gehad. Selfs in droogtetye het ons rose my altyd "ondersteun.".

Ons het 'n roostuin eers voor in die erf gehad en later na ons sekere verbouings aan die huis gedoen het, het ons dit na die kant van die huis geskuif. Elke jaar, tydens spesiale geleenthede, het hierdie rose hulle kant gebring en kon ek met elke verjaardag, Moedersdag, troudagherdenking en Kersfees vir Jane wakkermaak met 'n roos in 'n potjie! My blommerangskikkingstalente is nie noemenswaardig nie, maar ek het dikwels gehoor hoe sy en haar suster, Minnie, praat van "lyne" of ongelyke getalle... Dit het ek so af en toe ingewerk in my handewerk as die "blomme-oes" dit toegelaat het. Party datums het nooit binne die roosseisoen geval nie, maar in al my getroude jare, het hulle hul kant gebring.

En toe kom die groot en langdurige droogte, wat party plekke in die Noordkaap nou nog in 'n wurggreep beet het. En die laaste van die roosbome vrek... hulle wat dekades lank vir ons vreugde verskaf het... mooi om na te kyk en heerlik om te ruik...

Van waar die herinnering aan die rose?  Ek het weer so 20 stokkies ingelê... ek probeer hulle so tussen die Kimberley-hitte deur pamperlang... Net miskien is ek gelukkig om weer 'n tuin met roosbome te hê!     

Sunday, 12 June 2016

Tuesday, 7 June 2016

Basare van toeka tot...

Hierdie muurbehangsels is van Jane se handewerk in die jare 70! 
Hierdie droë blomme was daardie tyd hoog in die mode! 
In die voorgrond is twee oompie-kadoompie-vrugtekoeke.
Aan die regterkant is 'n klomp handgebreide teddies!
Nog foto's van voorbeelde wat deur Jane gemaak is.

Monday, 2 March 2015

Thursday, 16 June 2011

Familiebrief: Jane Ann Pienaar

Ma, wanneer lewens onteenseglik aanmekaar toegewy word, deur die huwelik, geboorte of die liefde, ontstaan onwillekeurig herinneringe wat ons vir ewig met ons saamdra! In die proses van die lewe, beïnvloed ons mekaar, hanteer ons mekaar, maak merke in mekaar se lewe totdat ons, soos gladde spoelklippe knus in mekaar se lewens lê, en die luuksheid van mos ons oortrek om mekaar te ken en die gemaklikheid van lief wees vir mekaar, ons bind. Wanneer een van die klippe verwyder word, los dit weereens 'n merk en 'n leemte wat nie gevul kan word nie, maar die luuksheid van die mos van die Liefde gun ons dit om die leemte op te vul met die sagtheid van: om te onthou!

Ma Jane, in alles het jy die beste van jouself aan ons gegee. Die voorbeeld gestel, om op 'n eenvoudige manier, groot verskil in die lewens van mense te maak en deur dit alles om ook self mens te bly. Deur dit alles was sy: Eggenoot vir my, 'n moeder vir ons, 'n ouma vir die kleinkinders, 'n suster, 'n niggie, 'n tannie en 'n vriendin duisend.   

In elke amp het sy haar waardigheid bevestig, en haar waarde daarin oorskry, ver bo dié van korale. (Spr. 31:10)

Die luuksheid van lief wees vir jou en om jou te onthou sal vir altyd vasgelê wees in ons harte, solank as tyd ons toelaat!

"Haar hoop en verwagting is vervul in Jesus se Genade en Liefde
toe Hy haar geroep het om by Hom te wees."

Gebore: 08 Februarie 1929
Oorlede: 12 Junie 2011

Herdenkingsdiens: 16 Junie 2011 om 11:00 vanuit die NG Gemeente Dutoitspan. Diens waargeneem deur ds. J van Wyk