Friday 29 September 2017

Vakansieherinneringe...

Ons het as 'n gesin jaarliks vakansie gehou en heerlike herinneringe bymekaar gemaak. En vandag is dit deel van my kosbaarhede...

In my kop reis ek dikwels gou Murraysburg toe of Hartenbos toe - die oorslaapplekkies in Beaufort-Wes, Graaff-Reinett en ander, sit 'n glimlag op my gesig.

En om te dink dat die Septembervakansie 2016 in Knysna, lê sowaar al 'n jaar terug in die verlede...'n heerlike vakansie saam met die kinders en kleinkinders...

Henry het besluit om soveel kleinkinders as wat hy in die hande kan kry, wat weer op hulle beurt verlof kan kry, bymekaar te maak. Ons was 'n heerlike huisvol mense. Henry en Alda, JC, JJ en Janeke. Ongelukkig moes Gizela met 'n groep kinders gaan kamp. Gelukkig was sy die vorige jaar saam.  

In Knysna is ek bederf met 'n bootvaart op die rivier, rondry tussen al die geskiedkundige plekkies, 'n inloer by die ou kerkies en heerlike braaie waarvoor JC en JJ verantwoordelik was.

Op my ouderdom kyk 'n mens net na die see, 'n mens swem nie meer nie...

(Na die geweldige brande by Knysna, het ek dikwels gewonder hoeveel van die plekke wat ons besoek het, het die brand vrygespring!)

Friday 15 September 2017