Showing posts with label Fiets. Show all posts
Showing posts with label Fiets. Show all posts

Tuesday, 11 December 2018

"Kom ons gaan kuier vir my juffrou ..."

Vir ons as kinders was dit altyd snaaks as my pa sê dat ons vir sy juffrou moet gaan kuier ... In ons verwysingsraamwerk as laerskoolkinders gaan kuier 'n mens nie vir jou juffrou nie!

My pa was op Murraysburg op skool. Sy een juffrou was mev. Myburg, maar wat haar nooiensvan was, weet ek glad nie. My pa is in 1902 gebore, dus was hy seker gedurende 1908 - 1913 in die laerskool. Sy juffrou was getroud met 'n plaasboer in die omgewing van Hanover en baie jare later het hulle vriende geword. Ons het vir hulle op die plaas gaan kuier en hulle het weer op hulle beurt vir ons in De Aar kom kuier. Hulle het twee seuns en 'n dogter gehad, wat selfs nadat hulle klaar met skool was, vir ons kom kuier het. Hulle dogter is met 'n ene Van der Merwe van De Aar getroud. Ons het kontak met hulle verloor toe hulle Pretoria toe getrek het.

Een spesifieke kuier staan my nog helder voor gees. My oudste broer was nie baie lus vir die plaaskuier nie, maar in daardie jare het ouers nie met kinders onderhandel nie en moes hy teen wil en dank saam. Hy het egter 'n fiets in die hande gekry en die hele ent pad van Hanover tot in De Aar gery - hierdie 45 km was daardie jare grondpad! Dat dit 'n uitputtende rit moes gewees het, het hy egter nooit teenoor iemand erken nie!

Tuesday, 20 November 2018

Stofstrate en blink stoepe ...

In my kinderdae het De Aar nog grondstrate gehad en wat is nou lekkerder vir seuntjies as om fiets te ry dat die stof so staan. Maar ons is nog klein en bepaald nie gewigtig genoeg om 'n groot bondel stof op te skop nie. Die veld het egter mildelik in ons behoeftes voorsien. Ons het swaar asbosse agter aan ons fietse vasgemaak en gekyk wie kan die grootste stofwolk uit die grondpad ry.  

Met meerdere insig kan ek vandag net dink tot watter vlakke van ergenis ons die huisvrouens gedryf of liewers gery het ... ek kan nie dink dat hulle baie vriendelik met ons was, as hulle rooi gepoleerde stoep asvaal op 'n blou Maandag daar uitgesien het nie.

[Ek het ongelukkig nie 'n foto van 'n ou fiets of 'n asbos nie, maar hoop die illustrasies sal die gedagtes aan die loop sit.]

Monday, 9 July 2018

My fiets ...

My pa se fiets se raam het gebreek en toe gebruik hy sommer
my fiets om syne te herstel. Broer Piet verkoop toe sy fiets aan
my - die fiets wat ek vandag nog het. Hy moes toe vir my 'n 
getekende bewys gee dat ek die fiets by hom
gekoop het en daarmee kon ek my fietslisensie gaan koop. 


Hier is die kwitansie en kyk hoe is sommige woorde
in 1955 gespel!