Sunday 29 July 2018

Die langafstandverhouding blom ...

Murphy het 'n spesiale bed vir dié winter gekry. En sy was baie in haar skik met hierdie onverwagse meevallertjie. Dié bed is "ingevoer" van Durban waar Henry dit gedurende die vakansie by 'n aandmark raakgeloop het. Hy soek al jare na 'n geskikte bed - snoesig, lekker gestop, sag, mooi en Murphy-vriendelik.

By elke kunstefees is die beddens besigtig, bevoel en helaas te lig bevind, selfs die beddens by die troeteldierwinkels was net te Chinees vir die besondere hond. En toe is daar 'n stalletjie wat hierdie beddens individueel vervaardig... nogal teen 'n sakvriendelike prys!

Op een van die foto's straal die dankbaarheid uit Murphy se honde-oë! Die eerste week nadat sy die bed gekry het, het sy soos 'n pensioenaris eers 9:00 in die oggend uit die waskamer gekom en sommer net na vieruur, as ek haar kos vir haar gegee het, gaan inkruip. Van my "waghond" was daar niks oor nie; ek het al begin planne maak om vir ons twee 'n ander waghond te kry - maar 'n nuutjie is nie vir altyd nuut nie - 'n week later is sy haar ou self... vroeg soggens aan die hardloop, blaf en lekkernye bedel by die venster!

Dankie, Henry!! 


Monday 9 July 2018

My fiets ...

My pa se fiets se raam het gebreek en toe gebruik hy sommer
my fiets om syne te herstel. Broer Piet verkoop toe sy fiets aan
my - die fiets wat ek vandag nog het. Hy moes toe vir my 'n 
getekende bewys gee dat ek die fiets by hom
gekoop het en daarmee kon ek my fietslisensie gaan koop. 


Hier is die kwitansie en kyk hoe is sommige woorde
in 1955 gespel!


Sunday 8 July 2018

Ten spyte van ...

Ten spyte van die droogte en die vreeslike koue wat ons
hierdie week gehad het, is hierdie strelitzia's in volle blom.