Showing posts with label Piet Pienaar. Show all posts
Showing posts with label Piet Pienaar. Show all posts

Wednesday, 2 January 2019

Gewiel en gespoor ...

Mense is gewoonlik gestewel en gespoor as hulle êrens heen gaan, maar ek dink 'n mens moet eerder gewiel en gespoor wees, anders ontspoor jy dalk.

Motors, en ek is oud genoeg om nog die ou modelle te beleef het, wat met 'n slinger aan die brand gedraai is, is maar altyd deel van 'n seuntjie se leefwêreld.

Ons het altyd draadkarre gehad, inteendeel as ek so terugdink, dan was ons professionele draadkarbouers vir daardie jare en vir ons ouderdom. Ons het ons draadkarre met luserndraad gebou - dit is 'n dikkerige draad, maar het makliker gewerk as die dik draad wat vir priële gebruik is, vir die takke om teen te rank.  Ons het ou Chev-draadkarre gehad en ons draadkarre het ook werklike ligte gehad. Vir dit het ons gloeilampies in die ligte se plek gesit en dit dan met 'n flitsbattery gekonnekteer. En om waarde vir jou handearbeid te kry, het ons dus ook in die aand met die draadkarre gespeel. Ure se werk het in so 'n draadkar ingegaan. So 'n draadkar het nie nommerplaatloos in die stofstrate van De Aar gery nie.

Ons het wiele van draad gebuig en dit dan oorgetrek met die binneband van 'n fiets of motor. Ons latere modelle het ook 'n kattebak gehad en beweegbare enjinkapkap. Broer Piet was baie handig en was altyd op die uitkyk hoe ons die draadkarre kon verbeter. (Ek wens ek het foto's daarvan gehad, sodat ek hierdie storie kon fotostaaf, maar in ons jare, met die bokskameratjies, was foto's meer die uitsondering as die reël. Ek het hierdie draadkar van die internet geleen, maar dit het nie naastenby die al die "gadgets" wat ons aan ons karre gesit het nie, die enigste rede hoekom ek hierdie foto ter illustrasie gebruik, is omdat dit nie plastiese wiele het nie.)

Draadkarre is nou weer hoog mode en by garages en koöperasies is dit algemeen beskikbaar (pryse wissel, afhangende van die model - daar is draadkarre wat in die omgewing van 'n R1000,00 draai.)

Nou wonder ek, was die vreugde wat draadkarre ons gebied het, nie geleë in die feit dat ons dit self gebou het nie?

Tuesday, 20 November 2018

Is daar Engelse Van der Merwes in die Karoo?

My neef Pienaar van der Merwe, sommer in die wandel as Toy bekend, was die seun van oom Danie en tannie Stompie van der Merwe. Oom Danie was my ma Nellie se broer. Hulle het regoor die Rooms Katolieke kerk en skool gebly. En met 'n skool wat enkele treë van hulle voordeur af was, was daar geen twyfel waar hierdie nefies van my sou skoolgaan nie.

Hierdie Engelse nefies het wel saam met ons na die Afrikaanse Hoërskool gegaan.

My broer Piet is weer Petrus Van der Merwe Pienaar gedoop, maar omdat almal so 'n draai deur Murraysburg gemaak het, hetsy van pa of ma se kant af, is die sakie sommer met gepaste byname reggestel. Op hierdie manier kon daar nie verwarring bestaan oor die persoon ter sprake nie... 

Toy is getroud met Henna en hulle het twee seuns gehad. Die oudste seun is oorlede en nie lank daarna nie, is Toy ook oorlede. Henna het maar teruggetrek De Aar toe - die plek waar 'n mens se kinderspore nog helder voor jou geestesoog lê.