Saturday 28 October 2017

Die Krismisroos...

Hier is so 3 foto's wat ek sommer met my
selfoon uit die album afgeneem het. Die swart en
wit foto is een Sondag na kerk geneem, met
Ronell en Alda op die voorgrond!
Nie lank nadat ons ingetrek het nie, is ek as diaken in Dutoitspan-gemeente gekies. 'n Ene mnr. Gouws wat in Robinsonstraat gebly het, het een middag vir my twee half dooie stokkies gegee en gesê dat ek dit moet gaan plant. Jane het hierdie stokkies so een kyk gegee en besluit hulle gaan dit nie maak nie...

Ek het hulle nietemin in die grond gesit en versorg en tot ons groot vreugde het hulle gegroei en jaar na jaar vir ons bederf met armsvol blomme.

In 1968 het ds. Siebert vir ons gewys hoe om die krismisroos te snoei om tot sy volle reg te kom - baie blomme, maar kleiner of minder blomme, maar groter! Terwyl ek die wingerd gesnoei het, het Jane die krismisroos gesnoei en het ons land en sand gesels. Ons het elke jaar wingerdstokkies en krismisroosstokkies ingelê en uitgedeel aan almal wat wou hê.

En elke jaar was daar genoeg blomme vir ruikers in die kerk vir die Kersdiens, wat dikwels dan na "Ons Huis" (die ouetehuis) geneem is, sodat hulle dit verder kan geniet. Ons is ook met 'n klomp blomme na die begraafplaas toe... Dan het ons blomme op die tweelinkie se graf gaan sit (hulle is op Kersdag 1958 gebore en oorlede) en sommer dan ook op al die familielede en vriende wat nie meer daar is nie.


Die krismisroos het in 'n hoek gestaan wat aan die straatkant van die huis is... menigmaal het mense verby gery, foto's geneem, of selfs blomme gevra... Vanjaar, na meer as 55 jaar van blomvreugde, het die droogte ook hier sy merk gelaat... Ek wonder by wie ek weer 'n steggie kan kry, om die hoekie in die tuin, weer tot sy reg te kan laat kom!!  

Thursday 26 October 2017

JC, voor die lang pad...

JC, dankie vir jou amper-met-vakansie-foto! Ek dink na 'n jaar van werk en studeer, gaan jy die vakansie dubbel en dwars geniet!

En as ek so na jou vakansiedrag kyk, sien ek dat ons altwee 'n voorliefde vir 'n keps het... Ek wonder waar my kruisbande is... miskien kan ek so 'n "tip" of twee weer by jou leen en 'n bietjie aan my voorkoms hier op my oudag werk... ek is natuurlik liewer vir 'n das, as 'n strikdas...

Geniet jou vakansie!!  


Saturday 21 October 2017

Rose

Ek en Jane het nog altyd 'n sagte plekkie vir hierdie besondere plant gehad. Selfs in droogtetye het ons rose my altyd "ondersteun.".

Ons het 'n roostuin eers voor in die erf gehad en later na ons sekere verbouings aan die huis gedoen het, het ons dit na die kant van die huis geskuif. Elke jaar, tydens spesiale geleenthede, het hierdie rose hulle kant gebring en kon ek met elke verjaardag, Moedersdag, troudagherdenking en Kersfees vir Jane wakkermaak met 'n roos in 'n potjie! My blommerangskikkingstalente is nie noemenswaardig nie, maar ek het dikwels gehoor hoe sy en haar suster, Minnie, praat van "lyne" of ongelyke getalle... Dit het ek so af en toe ingewerk in my handewerk as die "blomme-oes" dit toegelaat het. Party datums het nooit binne die roosseisoen geval nie, maar in al my getroude jare, het hulle hul kant gebring.

En toe kom die groot en langdurige droogte, wat party plekke in die Noordkaap nou nog in 'n wurggreep beet het. En die laaste van die roosbome vrek... hulle wat dekades lank vir ons vreugde verskaf het... mooi om na te kyk en heerlik om te ruik...

Van waar die herinnering aan die rose?  Ek het weer so 20 stokkies ingelê... ek probeer hulle so tussen die Kimberley-hitte deur pamperlang... Net miskien is ek gelukkig om weer 'n tuin met roosbome te hê!