Showing posts with label Kobie Linde. Show all posts
Showing posts with label Kobie Linde. Show all posts

Saturday, 8 September 2018

Kobie Linde se dagboek ...

Ek het vanjaar ds. Kobie Linde se boek nadergetrek om stilte uit te hou. Kobie Linde en sy vrou, Engela (die baie bekende skryfster, het vir 6 maande langs ons gebly. Hulle het by Fanie en Henriëtte Vermaak loseer. Dit was November 1960. Hy was op daardie stadium 'n proponent en het sommer gou die bynaam van "Proppie" gekry. Desember 1960 kon ds. Willem Steenkamp met 'n geruste hart vakansie gaan hou, want prop. Linde het as leraar ingestaan en gepreek.

Gedurende hierdie 6 maande het hy aktief saam met ds. Willem in Dutoitspan gemeente gewerk, terwyl hy vir 'n beroep gewag het. Ons het soos goeie bure betaam, oor en weer gekuier. Hy het toe so teen die einde Mei 'n beroep na Kameelboom in die Kalahari naby die grens met Botswana gekry. 'n Hele klompie jare later het sy paaie weer met Kimberley gekruis, toe hy 'n beroep na die NG Gemeente Newton (vandag Kimberley Gemeente) aanvaar het. Hiervandaan is hy na die militêre gemeente in Kimberley as kapelaan beroep, toe Grahamstad en vandaar het hy vir baie jare as kapelaan in Potchefstroom diens gedoen.

Seker maar oor ek die skrywer geken het, dat ek 'n gevoel van heimwee ervaar, elke keer as ek sy dagstukkies lees. Dis asof ek die man hoor - so anders as bv. met ds. Solly se dagstukkie-boeke. 

Friday, 20 January 2017

Bure in die baie vroeë jare 60...

Beriggie wat in Netwerk24 verskyn het.

Kobie Linde, ’n predikant, skrywer van verskeie geestelike boeke en eggenoot van die skrywer Engela van Rooyen, is Maandag in die Moot-hospitaal in Pretoria aan nierversaking dood.
Hy was ’n jaar lank in ’n versorgingseenheid aangesien hy ook aan demensie en diabetes gely het.
Linde is in 1935 gebore en het teologie aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer waar hy Van Rooyen ontmoet het. Hy was jare lank ’n kapelaan in Potchefstroom.
Sy meer as tien boeke het van 1992 tot 2004 verskyn en sluit in Goed begin, Padlangs na God, Superwenners, Uitroeptekens vir God, Die God wat omgee: Bybelse dagboek en Die volgende tree: ’n Dagreis deur Handelinge.
Van Rooyen sê in ’n e-pos “ons hou nie begrafnis of ’n gedenkdiens nie, gaan net die naweek saam as gesin saam met ma en kinders kuier en eet. Dit was vir my ’n groot bevryding om te besef dat begrafnis nie nodig is nie.
Wanneer ons oor ’n paar weke sy as bêre in die gedenkmuur by die kerk, sal ons weer almal teenwoordig probeer wees, tesame met ons dominee.”
Linde laat sy vrou, vier kinders en kleinkinders agter.

[20 Januarie 2017 14:25]
[http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/skrywer-predikant-dood-aan-nierversaking-20170120]