Saturday 28 April 2018

Geselskapsdame...

Hier op my oudag het ek 'n geselskapsdame ... 'n Op en wakker een! Party dae dink ek sy dink ek is te oud en gee te min aandag aan haar. Op my beurt dink ek weer sy ly aan AGHS. Sy is hiperaktief en impulsief en handel op die ingewing van die oomblik.

Haar aandag word maklik afgelei en sy skakel dikwels en maklik van die een aktiwiteit na die ander oor. Sy vind dit moeilik om op een ding te konsentreer. Rondhardloop is een van haar gunsteling aktiwiteite. 'n Ander gunsteling is eet ... maar net snoepgoed ... kos is van minder belang. En as sy die dag ongelukkig is oor my optrede, dan eet sy nie eers die lekkernye wat ek so goedgunstiglik met haar deel nie. Ek moet regtig mooipraat om weer in haar goeie boekies te kom. Een van die dinge wat haar regtig vies maak, is as ek dorp toe gaan en ek maak haar in die agterste deel van die werf toe ... Sy kan voorwaar 'n keel opsit!! En op hierdie manier verkondig sy dit aan die bure dat ek nie daar is nie!

Verder sukkel sy om opdragte uit te voer, eintlik is sy ongehoorsaam, maar ongelooflik nuuskierig. Sy weet wat by die bure aangaan, oorkant die pad en in die straat ...

Maar is dit nie maar tipies van 'n Jack Russel nie??