Tuesday 16 January 2018

Opvoedingstyle in families verskil van mekaar...

As ek aan my pa dink, dink ek aan iemand wat glad nie daaraan geglo het om sy kinders pak te gee nie.
My pa met my op sy arm.
Hy was iemand met 'n sagte hart wat baie lief vir kinders was.

'n Herinnering wat 'n groot glimlag op my gesig sit, was toe Hannes, Boetie (Petrus van der Merwe, Danie van Kleinbrak se oudste broer) en Boy (Oom Pienie se seun, Daphné se broer) besluit het om weg te loop. Hulle was klein en die drie tjokkertjies het na Boy se oupa se plaas geloop.

Hierdie weglopery van die nefies het nie die ouers se goedkeuring weggedra nie en hulle het besluit om hulle 'n pak te gee. Twee van die drie nefies het deurgeloop, maar omdat dit nie by die opvoedingstyl van my pa gepas het nie, het hy nie kans gesien daarvoor nie. Uitkom uit die situasie kon hy ook nie eintlik nie en dit is toe dat hy sy oudste suster, Auntie Annie, wat op daardie stadium by ons gekuier het, vra of sy nie asseblief vir Hannes sal slaan nie. As ek reg onthou het hy haar 5 sjielings aangebied.

Maar daarvoor het sy ook nie kans gesien nie... Hannes was die enigste een van die nefies wat nie pak gekry het nie... Maar die boodskap was dieselfde!!