Ons wittebrood - Julie 1956!


Voordat ons by die wittebrood self kom, is daar ander gebeurtenisse van belang.

Na ons verlowing op 6 September 1955 het ons met die beplanning begin. Miskien sal die volgende inligting verduidelik hoekom ons Woensdag, 6 September 1955, verloof geraak het en nie die Saterdag vooraf, soos die aanvanklike plan was nie. Daardie Saterdag het al die Suid-Afrikaanse spanne (rugby, boks, ens.) wat gespeel het, verloor onder andere ook die land se kampioenbokser. Dus was die stemming regtig nie bevorderlik vir 'n vrolike verlowing nie ... In elk geval, toe ons vir Dads, haar pa gaan vra het of hy die verlowing goedkeur, het haar stiefma tussenin getree om eers 'n preek vir ons te wil afsteek. Dads het egter oombliklik gereageer en gesê as hulle mekaar nou nog nie ken nie, sal dit nooit gebeur nie. Ons het op daardie stadium reeds 5 jaar uitgegaan.

Die naweek daarop het ons weer teuggekeer na ons tuisdorpe. Ons het vroeg begin om voorbereidings te doen vir die gelukwensing wat in Hoffepark se sysaal sou plaasvind. Ons het bv.ou vloerpolitoerblikke bymekaar gemaak. Die blikke het ons dan geverf en met mielierys bestrooi en dan die regte kleur gesprei vir die tafelruikertjies. Dit was nogal interessant -  alles haar idees; ek het maar net ingeval by die besluite.

Die troukoek is deur haar oudste 
suster gebak!
Verder het sy en haar oudste suster (Ousus) gekommunikeer oor wat alles benodig word vir die verversings. Hier moet ek net noem dat haar pa die Februarie 1956 skielik aan  'n hartaanval oorlede is, so daarom is besluit om maar net 'n gelukwensing by die saal te hou en nie 'n groot onthaal nie. Agterna het heelwat van my kollegas gesê ons kon maar net sowel "onthaal" op die troukaartjies laat druk het, so goed en baie was die verversings wat haar susters voorberei het. (Op die foto kan duidelik gesien word hoe het die hooftafel gelyk - die "onthaal" was regtig smaakvol gedoen, soos alle funksies wat Jane in haar latere lewe sou reël en doen.)

Ek loop die verrigtinge nou ver vooruit.

Toe ons gebooie gaan opgee het (daardie tyd moes die voornemende paartjie gebooie opgee en is dit vir drie weke in die verskillende gemeentes waar ons lidmate was, afgekondig), het ds. JJK van der Merwe van Kimberley-Noord gevra hoe is dit dat jy en Chris van der Walt wil trou as ek met verlof is. Sy vrou het later by die studeerkamer kom inloer en veskoning gevra vir die harde musiek, maar die huishulp is besig om die pastoriekinders te leer dans.

Die voorbereidings het nou in alle erns begin en Die Dag het eindelik aangebreek.

Jane se susters wat orals 
hand bygesit het.
Ons is in Kimbery-Noord-gemeente om 1:30 (13:30) getroud deur ds. JB Meyer (broer van Koos Meyer, die bekende storieverteller) van Kimberley-Wes-gemeente.

Na die huweliksbevestiging is ons na die ateljee om fots's te neem deur die fotograaf Brian Eaton, terwyl ons in die ateljee was, het dit so liggies begin reën ... net vir 'n kein rukkie (dit net terloops).

By saal aangekom, was daar nogal heelwat mense, van haar kollegas en van my kollegas en familie en vriende. Brits, 'n vriend van my en Chris van der Walt, was die seremoniemeester.
'n Onlangse foto van Chris 
van der Walt, wat die
heildronk ingestel het!
Onder andere het Chris die grap vertel van die paartjie wat lank na hul troue saam met hulle kinders deur hulle fotoalbums geblaai het en na foto's van hul troue gekyk het. Een van die kinders vra waar was hulle dan dié dag toe hulle ouers getroud is en voor hulle nog kon antwoord, kom dit van een van die ander kinders dat hulle seker weer by die huishulp moes gebly het.

Na al die toesprake het Tom en Petro Diederiks vir ons 'n besondere liedjie gesing en ons het dit baie waardeer.

Na al die verrigtinge is ons na Mienie-hulle se huis toe om te gaan verklee. Klein Christo, Mienie se seuntjie van so 3 jaar oud het by Jane kom staan en gesê sy mag by hulle slaap, maar nie ek nie ... uit die suigeling se mond hoor jy altyd die waarheid.

Die rede hoekom ons so vroeg in die middag getroud is, was omdat ons die trein na Bloemfontein om 16:00 sou haal en later die aand weer 'n trein om 10:30 (22:30) na Durban waar ons, ons wittebrood sou deurbring ... wat 'n heerlike tyd was dit nie.

Die gaste was toe nog altyd onder die indruk dat hulle stasie toe sal gaan om die kompartement te gaan bekrap, maar in die tussentyd het Jan Diederiks en Frik Bruyns besluit hulle sal ons deurneem Bloemfontein toe. Vir 'n klompie van die gaste was hierdie wending in sake 'n groot teleurstelling, omdat hulle gewapen met skryfgoed die troue bygewoon het. (Shoe shine en skeerroom was daardie tyd gewilde skryfmateriaal!)

Daar gekom was ons kompartement langs die van die Peaches, bure van Mienie-hulle.
Ons het eers die Maandag in Durban aangekom. Daarvandaan is ons met 'n huurmotor na ons hotel, die Killarney op die 8ste vloer. Ons het uitgepak en so bietjie die stad gaan verken en inkopies gedoen.
Ons het baie rondgegaan, in die aande was daar 'n oop bus wat deur die stad gery het en die mense geneem het om die liggies te besigtig.

Die stadstoere het ons na verskillende plekke geneem, onder ander daar waar hulle walvisse bewerk, nie altyd die lekkerste geure wat die omgewing se skoon lug versteur nie. Die ou grote lê daar met die werkers wat gate oopkap om die liggaam te bestyg sodat daar stukke "steak' uitgesny kan word.
Daar was van die besoekers wat van die stukke "steak" gekoop het en dit saam met hulle na hulle verblyfplek geneem het, van die persone het gesê dat dit baie lekker smaak, gedagtig aan my smake, het dit nie in my smaak geval nie. Ek is tot vandag nog dieselfde, Henry het by baie geleenthede my smaak getoets, sonder enige sukses.

Dan was daar ook die toere na die plek vallei van Duisendheuwels, daar het ons al die Zoeloe-danse gesien en dit het verskriklik op my gewerk, dat selfs in my drome  het ek opstandig geword, wat vir Jane so gehinder het, dat sy nie altyd 'n goeie nagrus kon geniet nie. Gelukkig was dit van verbygaande aard.
Ons is ook na die hutte van die Hoofman, ek het ingegaan, maar Jane wou nie ingaan nie. Daar was ook 'n  klompie studente op dié toer. Soos dit maar is, was daar uitstallers met hulle handewerke, dan het die klompie studente die verkopers so ontsenu, dat van die studente daar weg is, sonder om te betaal.

Met die terugreis stad toe, het daar van besoekers reg voor ons in die bus gesit en soos hulle, hul kop draai om die natuur te aanskou, het van die oorringe swart afgegee - van die koper waarvan die ringe gemaak is. Dit was vir ons twee nogal heel lagwekkend.    

Ek moes die volgende insident vroeër vertel het...

Die eerste oggend by die hotel, moes ons na die eetsaal afgaan vir ontbyt. Ek was en is nog altyd baie gesteld op 'n vroeë ontbyt. Ek was besig om klaar te maak, toe sê Jane dat sy nie saamgaan nie. Sy het nie altyd ontbyt genuttig nie, so is ek maar alleen na die eetsaal.

Ek het my bestelling geplaas en toe die kelner dit bring, vra ek vir hom of dit moontlik sal wees om ontbyt na kamernr. 832 te neem. Hy was onmiddellik gereed om daarvoor te sorg. Sy naam was Billy.
Hy gaan toe op na die kamer en klop aan die deur. Van binne af die gebruiklike:  "Wie is daar?" antwoord  hy, "The master has sent this breakfast". Na die tweede oggend wat dieselfde gebeur het, is die saak heeltemal opgelos en daarvandaan het ons altwee vir ontbyt afgegaan.

Een oggend toe ons teruggaan kamer toe, gebeur dit toe dat die huisbak nie gelyk met die vloer oopmaak nie en ons moes toe maar 'n trap hoër neem om uit te klim, met die grootste grap soos dit maar met wittebroodsmense gaan... baie uitgelate!

Daar was ook die riksja's (dis 'n tweedisselboomkarretjie) wat deur 'n Zulu getrek word, nogal iets besonders, sover hy hardloop lig hy die disselboom op dat karretjie agteroor hel, wat 'n mens nogal so 'n bietjie skrikkerig maak, maar dit was later net pret. Die rit was natuurlik nie verniet nie, ons moes maar opdok met 'n redelike fooi, asook wanneer daar 'n foto geneem word.

Die vakansie was ook baie gou verby  en ons het toe met die Orange-sneltrein die terugreis begin.
Ons het die reis onderbreek op Estcourt om by Ousus-hulle 'n paar dae oor te bly. Die Donderdag het ons weer met die Orange-sneltrein vertrek. Op Kimberley het Minnie ons die middag kom sien en met al die troufoto's gekom wat geneem was.

Ons is toe Kaap toe om ook 'n paar dae by suster Joe-hulle te kuier, wat ook baie aangenaam was. Daar het ons ook maar die winkels besoek. Jane, Tommie en ek het ook bioskoop besoek.

Dit was toe ook die einde van 'n heerlike vakansie, want daar moet weer begin werk word.
Ons het hier aangkom sonder dat ons verblyf gehad het, want ons kamer sou eers die einde van Julie gereed wees by Bedfortcourt, wat deur 'n mev. Gous bedryf was. Ons het toe maar by die Hotel gaan inboek - dit was naby my kantoor, maar toe kom Frik Bryuns ons vra om in sy huis te bly, aangesien die eienaar van die huurhuis besig was om herstekwerk te doen en omdat Minne by Ousus op Estcourt hulle gaan kuier het.