Sunday, 16 September 2018

Die bekende dr. Joseph van Douglas

Jane het die Josephs geken, omdat sy ook van daardie wêreld gekom het, maar ek het hom eers heelwat later leer ken.

'n Interessante mens wat sy praktyk baie uniek bedryf het. Hy het sy eie medisyne gemaak (aangesien hy ook aptekerswese tot op 'n punt geswot het, as ek sy vertellinge reg onthou) en hy het veral gespesialiseer in rumatiekmedisyne (in daardie jare het ons na alle gewrigspyne verwys as rumatiek). Dokters van oor die land heen, het hom besoek, selfs Amerikaners het by hom 'n draai gemaak. Ek sou wat wou gee om vandag my hande op daardie botteltjie met pilletjies vir rumatiek te kan lê.

Ek onthou een spesifieke besoek baie goed. Martie (Jane se suster) het by ons gekuier (na Willie se dood) en sy het ook vir haar 'n afspraak by dr. Joseph gemaak. Ek het op daardie stadium gewerk, Jane was 'n tuisteskepper, Martie was op pensioen en Alda was 'n student. Nie een van ons het dieselfde konsultasiefooie betaal nie.

Arm mense het hy verniet behandel en in daardie jare (die laat 70's) het hy reeds sy eie apteek in sy spreekkamer gehad. Sy eie medisynemengsels was wel bekend en gewild en om kostes te spaar, het sy pasiënte leë medisynehouers aangedra, wat hy daardie tyd al herwin het. As ek nou so terugdink, was dr. Joseph 'n milleniumdokter, een wat sy praktyk ligjare die toekoms in bestuur het. Hy was ook so half ouderdomloos. Dit was moeilik om te skat hoe oud hy was, ek vermoed toe ons paaie gekruis het, was hy al 'n hele klompie jare verby aftree-ouderdom.

Een van sy liefdes was skryf. Hy het graag oor mense geskryf, maar nooit hulle identiteit of die Karoodorpies se name bekend gemaak nie. Hy het die boekies wat hy geskryf het, in Engels en in Afrikaans sommer self uitgegee. En toe hy dit wil verkoop, het die Medisyneraad (of wie hulle ook daardie tyd was), 'n netjiese stokkie daarvoor gesteek. Dit het hierdie begeesterde man nie ondergekry nie en hy het hulle vir sy pasiënte uitgedeel wat lief was vir lees.

Ek haal graag uit een van sy boekies aan - 'n treffende begin:

"Die twintigste eeu was maar tien jaar en vier dae oud toe my moeder die lewe aan 'n seun geskenk het. Daardie seuntjie was ek. Vir my ouers was dit 'n dag van besondere betekenis, omdat hulle 'n seun ryker geword het. Lank voor my geboorte het hulle besluit dat as die baba 'n seun is, hulle hom vir 'n dokter sou laat leer. My vader wou baie graag een geword het, maar hy het nie die geleentheid of voorreg gehad nie.

Destyds het honderde mense diamante gedelf, en waar ek gebore is, is duisende diamante uitgehaal. Die klein sinkhuisie waarin ek gebore is, is later afgebreek en  die gruis onder die huis omgekeer. Vier mooi 'klippies' is daar gevind en die geld wat my vader daarvoor gekry het, het die onkoste van my geboorte maklik gedek. Ek is letterlik op diamante gebore! Daardie selfde plasie is vandag my eiendom en weens sentimentele en ander redes kan geld hom nie koop nie.

Toe ek drie jaar oud was, het my ouers besluit om ses maande in die buiteland vakansie te gaan hou. Terwyl ons daar was, het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Ses jaar lank was ons daar vasgekeer en saam met duisende ander het ons byna van honger omgekom. Maande aaneen het ons van gekookte gras gelewe. Vir 'n kort rukkie was ek toegelaat om bloed by die militêre slagpale bymekaar te skraap. Dit het ons gekook en geëet."   

Saturday, 8 September 2018

Kobie Linde se dagboek ...

Ek het vanjaar ds. Kobie Linde se boek nadergetrek om stilte uit te hou. Kobie Linde en sy vrou, Engela (die baie bekende skryfster, het vir 6 maande langs ons gebly. Hulle het by Fanie en Henriëtte Vermaak loseer. Dit was November 1960. Hy was op daardie stadium 'n proponent en het sommer gou die bynaam van "Proppie" gekry. Desember 1960 kon ds. Willem Steenkamp met 'n geruste hart vakansie gaan hou, want prop. Linde het as leraar ingestaan en gepreek.

Gedurende hierdie 6 maande het hy aktief saam met ds. Willem in Dutoitspan gemeente gewerk, terwyl hy vir 'n beroep gewag het. Ons het soos goeie bure betaam, oor en weer gekuier. Hy het toe so teen die einde Mei 'n beroep na Kameelboom in die Kalahari naby die grens met Botswana gekry. 'n Hele klompie jare later het sy paaie weer met Kimberley gekruis, toe hy 'n beroep na die NG Gemeente Newton (vandag Kimberley Gemeente) aanvaar het. Hiervandaan is hy na die militêre gemeente in Kimberley as kapelaan beroep, toe Grahamstad en vandaar het hy vir baie jare as kapelaan in Potchefstroom diens gedoen.

Seker maar oor ek die skrywer geken het, dat ek 'n gevoel van heimwee ervaar, elke keer as ek sy dagstukkies lees. Dis asof ek die man hoor - so anders as bv. met ds. Solly se dagstukkie-boeke. 

Tuesday, 4 September 2018

My genadeblommetjies!

Deesdae is tuinmaak 'n luukse wat ek nie meer kan doen nie. My hande jeuk om in die tuin te vroetel, maar my vervaldatum vir tuinmaak het helaas aangebreek. Daarom verlustig ek my in al hierdie genadeblommetjies wat hulle bydrae tot kleur in my tuin in hierdie droë seisoen ongevraagd gee. 




Sunday, 29 July 2018

Die langafstandverhouding blom ...

Murphy het 'n spesiale bed vir dié winter gekry. En sy was baie in haar skik met hierdie onverwagse meevallertjie. Dié bed is "ingevoer" van Durban waar Henry dit gedurende die vakansie by 'n aandmark raakgeloop het. Hy soek al jare na 'n geskikte bed - snoesig, lekker gestop, sag, mooi en Murphy-vriendelik.

By elke kunstefees is die beddens besigtig, bevoel en helaas te lig bevind, selfs die beddens by die troeteldierwinkels was net te Chinees vir die besondere hond. En toe is daar 'n stalletjie wat hierdie beddens individueel vervaardig... nogal teen 'n sakvriendelike prys!

Op een van die foto's straal die dankbaarheid uit Murphy se honde-oë! Die eerste week nadat sy die bed gekry het, het sy soos 'n pensioenaris eers 9:00 in die oggend uit die waskamer gekom en sommer net na vieruur, as ek haar kos vir haar gegee het, gaan inkruip. Van my "waghond" was daar niks oor nie; ek het al begin planne maak om vir ons twee 'n ander waghond te kry - maar 'n nuutjie is nie vir altyd nuut nie - 'n week later is sy haar ou self... vroeg soggens aan die hardloop, blaf en lekkernye bedel by die venster!

Dankie, Henry!! 


Monday, 9 July 2018

My fiets ...

My pa se fiets se raam het gebreek en toe gebruik hy sommer
my fiets om syne te herstel. Broer Piet verkoop toe sy fiets aan
my - die fiets wat ek vandag nog het. Hy moes toe vir my 'n 
getekende bewys gee dat ek die fiets by hom
gekoop het en daarmee kon ek my fietslisensie gaan koop. 


Hier is die kwitansie en kyk hoe is sommige woorde
in 1955 gespel!


Sunday, 8 July 2018

Ten spyte van ...

Ten spyte van die droogte en die vreeslike koue wat ons
hierdie week gehad het, is hierdie strelitzia's in volle blom.

Saturday, 30 June 2018

Thursday, 21 June 2018

Wintersknieë ...

In die dae voor die groot
staking ...
Hierdie winter het sommer nou ongevraagd by my knieë ingetrek.

En ek stem heelhartig met Blouwillem van Volksblad-faam saam dat my ou lyf al hoe meer na 'n ESKOM-staking voel: Die meeste van die tyd op strike, maar daar is darem nog so hier en daar 'n bietjie krag wat deurkom!

Sunday, 10 June 2018

Die langafstandhond...

Daar is langafstand-verhoudings, afstandsonderrig en derglike dinge, maar ek is die voog van 'n langafstandhond... Murphy is eintlik Henry se hond. Hy sorg vir die hond, koop kos en lekkernye (veral lekkernye), sjampoo en Bob Martins. En dan is daar die veeartsrekeninge wat met liefde betaal word, omdat die hond van tand tot toon, in 'n tip-top-kondisie moet wees.

Wanneer Henry hier gekuier het, is sy skoon geskrop... En dan hou ek maar duime vas, dat die dame sal poog om haar nie onnodig vuil te mors nie, want vir my is dit 'n hele drama om haar deesdae te bad en droog te kry! Hier is sy na so 'n badsessie...

Saturday, 28 April 2018

Geselskapsdame...

Hier op my oudag het ek 'n geselskapsdame ... 'n Op en wakker een! Party dae dink ek sy dink ek is te oud en gee te min aandag aan haar. Op my beurt dink ek weer sy ly aan AGHS. Sy is hiperaktief en impulsief en handel op die ingewing van die oomblik.

Haar aandag word maklik afgelei en sy skakel dikwels en maklik van die een aktiwiteit na die ander oor. Sy vind dit moeilik om op een ding te konsentreer. Rondhardloop is een van haar gunsteling aktiwiteite. 'n Ander gunsteling is eet ... maar net snoepgoed ... kos is van minder belang. En as sy die dag ongelukkig is oor my optrede, dan eet sy nie eers die lekkernye wat ek so goedgunstiglik met haar deel nie. Ek moet regtig mooipraat om weer in haar goeie boekies te kom. Een van die dinge wat haar regtig vies maak, is as ek dorp toe gaan en ek maak haar in die agterste deel van die werf toe ... Sy kan voorwaar 'n keel opsit!! En op hierdie manier verkondig sy dit aan die bure dat ek nie daar is nie!

Verder sukkel sy om opdragte uit te voer, eintlik is sy ongehoorsaam, maar ongelooflik nuuskierig. Sy weet wat by die bure aangaan, oorkant die pad en in die straat ...

Maar is dit nie maar tipies van 'n Jack Russel nie??  

Thursday, 29 March 2018

'n Balans...?

Ek was verlede week by die dokter, want na die griepinspuiting het ek gaan staan en griep kry!! So 'n paar algemene toetse en die bevinding is dat daar balans in my lewe is...

Murphy was veearts toe, maar volgens die veearts is dit pure aandagsoekery...

Tuesday, 20 March 2018

Murphy... (vervolg)

Murphy kom sit graag voor my kamervenster en beplan dan haar dag volgens my bewegings... Bly ek die dag in die kamer, om welke rede ookal, doen sy dieselfde... maar net met meer aksie!! Sy wag die bure se hond in en lok 'n deur-die-draad-geveg uit. Indien die hond aan die anderkant van die huis is, bekruip sy voëls, geitjies of duiwe... Dié wat suksesvol gevang word en nie geëet word nie, word as vredesoffer voor my kamervenster gesit. Nooit gedink dat dié hond wat so verfynd en vol fiemies is, nog steeds eie aan hul natuur, haar jagtersinstinkte so blatant sou blootstel nie.

Volgens alle aanduidings was sy 'n huishond... Sy hou van TV kyk en as sy op haar agterpote staan by die kamervenster, kan sy TV kyk...

Sy is baie liewer vir huiskos en groente en vrugte, as vir haar kos. As jy 'n nartjie, peer, lemoen, perske, tamatie, vy of wat ookal buite staan en eet, kyk sy dit uit jou mond uit! Vir jogurt is sy ongelooflik lief en eet dit graag met 'n lepeltjie uit die bakkie (net Henry het die geduld vir hierdie oefening...) en met roomys en jellie kan jy haar omkoop!   

Verder is dit ook belangrik hoe die kos vir haar gegee word... indien enige van hierdie kos vir haar gegooi word, eet sy dit nie... Dit moet vir haar gegee word, verkieslik korrel vir korrel (in die geval van druiwe) of in blokkies gesny ( in die geval van waatlemoen...)

Ek het al hond se gedagtes gekry dat sy 'n vegetariër is, maar haar gunsteling vleiskossie is hoendervelletjies...

Sunday, 11 March 2018

My nuwe dieet?

Indien 'n mens na die nuus luister en kennis neem van listeriose wat in al die maklike kitskosse vir ons alleenlopers skuil, is dit miskien die beste om die dokter se dieet te volg... Met die pyne wat elke nou en dan sy kop op 'n ander plek uitsteek, kou ons al reeds klippe... die volgende probleemarea gaan seker ons gebit wees!!

Sunday, 4 March 2018

My liefdesdiens...

Die 26ste Februarie het ek gou my gebruiklike draai by die kerkkantoor gaan maak, om die finansiële inligting gou op die rekenaar te sit, toe ons dominee besluit om my aksies vas te vang - die resultaat het hy vir my aangestuur...

Monday, 5 February 2018

Baie dankie vir die gelukwensings!

'n Groot dankie aan elkeen wat my dag so spesiaal gemaak het. Dankie vir elke oproep, SMS, WA, handdruk by die kerk en die verrassingstee wat vir my gereël is. Ek waardeer elkeen van julle en voel geseënd om julle te ken.

Mag elkeen van julle ook die seëninge ervaar wat julle my toegewens het.

Wednesday, 17 January 2018

'n Wewenaar met 'n dwalende oog...

Die ou mense het baie humor gehad en as 'n mens vandag terugdink, dan moes jy net mooi geluister het, want hulle het dikwels 'n storie sommer so in die lug laat hang en jy moes jou eie afleidings maak...

My skoonpa, Tom (Thomas Henry) Roselt, het eendag 'n man, ene Badenhorst, op die dorp raakgeloop. Hy was vir die soveelste keer weer wewenaar, maar die man het ook nie eens lank gerou nie, dan staan hy weer met die volgende mev. Badenhorst voor die kansel.

Dit was tydens een van sy wewenaarskappe wat my skoonpa vir hom sê: "Ag nee, man, jy is besig om die vrouens uit te roei!"

Tuesday, 16 January 2018

Opvoedingstyle in families verskil van mekaar...

As ek aan my pa dink, dink ek aan iemand wat glad nie daaraan geglo het om sy kinders pak te gee nie.
My pa met my op sy arm.
Hy was iemand met 'n sagte hart wat baie lief vir kinders was.

'n Herinnering wat 'n groot glimlag op my gesig sit, was toe Hannes, Boetie (Petrus van der Merwe, Danie van Kleinbrak se oudste broer) en Boy (Oom Pienie se seun, Daphné se broer) besluit het om weg te loop. Hulle was klein en die drie tjokkertjies het na Boy se oupa se plaas geloop.

Hierdie weglopery van die nefies het nie die ouers se goedkeuring weggedra nie en hulle het besluit om hulle 'n pak te gee. Twee van die drie nefies het deurgeloop, maar omdat dit nie by die opvoedingstyl van my pa gepas het nie, het hy nie kans gesien daarvoor nie. Uitkom uit die situasie kon hy ook nie eintlik nie en dit is toe dat hy sy oudste suster, Auntie Annie, wat op daardie stadium by ons gekuier het, vra of sy nie asseblief vir Hannes sal slaan nie. As ek reg onthou het hy haar 5 sjielings aangebied.

Maar daarvoor het sy ook nie kans gesien nie... Hannes was die enigste een van die nefies wat nie pak gekry het nie... Maar die boodskap was dieselfde!!

Sunday, 14 January 2018

My bure in die jare 60...

Ons bure skuins agter ons in die sestiger jare was Jurie en Celie Doman. Ons kinders het altyd Vrydae
Iets soortgelyk... dis so jammer 
ek het nie 'n foto daardie 
tyd geneem nie.
by mekaar gespeel en dan het ons hulle sommer so oor die draad getel.. Een Vrydagmiddag het Monica by Alda kom speel en die volgende Vrydag het Alda weer daar gaan speel.

Celie was 'n kinderkransleidster en daarom het Alda van baie jongs af Kinderkrans toe gegaan... Sy was so tussen drie en vier jaar oud en was in Celie se klas... ongeveer 1963.

Jurie was 'n man wat daarvan gehou het om poetse te bak en ook om iets kreatief te maak. Hy was regtig vaardig met sy hande. Hy het ongeveer in daardie tyd 'n ou stukkende bus gekoop en dit omskep in 'n woonwa. Hy het jare aan hierdie projek van hom gewerk en beter kon jy nie sommer kry nie... Hy het 'n netjiese stukkie werk gedoen en ons bure het so van tyd tot tyd daar gaan inloer om te sien hoe vorder die projek. Hierdie was letterlik 'n huis op wiele, want hierdie bus het meer as genoeg ruimte gehad... Voordat ons die finale produk kon sien, is hy Kokstad toe verplaas en het hy die bus Strydenburg na sy pa-hulle toe gevat. Jurie het vele aanbiedinge gehad om die bus te verkoop wat hy dan later ook gedoen het.. Was dit die eerste van sy soort - wat sou 'n mens dit noem? Dalk 'n buskaravaan?

Ek sien op die internet dat dit deesdae nie meer 'n skaars item is nie.  

Ons buurmanne, ek, Fanie, Jurie en nog een of twee in die blok, was omtrent almal op die kerkraad. Een spesifiek Sondag was Jurie nie in die kerk nie en ek bel hom. Nadat ons gegroet het, vra ek toe aan hom: "Broer, hoekom was jy nie in die kerk nie?" Hy moes my vir die nuwe dominee, ds. Willem Steenkamp, aangehoor het, want hy het behoorlik klei getrap tussen al die verskonings...

Baie jare later het hulle gaan aftree op Strydenburg in die Noord-Kaap! Hulle het in dieselfde huis as sy ma-hulle gebly en op daardie stadium was hy burgemeester van die dorp, net soos sy pa baie baie dekades voor hom.

Strydenburg is een van daardie klein dorpies waar daar nie baie gebeur nie. Een Desember toe Henry-hulle van die Kaap af kom, ry hulle deur Strydenburg en besluit om sommer brandstof in te gooi. Die petroljoggies het so teen die muur gehurk en toe Henry hulle vra wat hulle hier in Strydenburg maak, was sy antwoord: "Meneer, hier haal ons nog net asem."

Monday, 8 January 2018

Interessante berekenings...

The rand is currently enjoying one of its longest winning streaks since 2002, with the currency trading at R12.37 to the dollar on Monday, 8 January.

This means that those looking to travel internationally may find that they will be getting the best bang for their buck right now. BusinessTech looked at what R100 can get you at current prices around the world:
  • UK: £5.96
  • USA: $8.08
  • Australia: AU$10.30
    So 'n terugblik op ons vlug Kaap
    toe in 2005 vir 'n kort vakansie
    in Gordonsbaai. Ek, Jane en 
    Alda. Die fotograaf was Henry!!
  • Germany: €6.73
  • Brazil: R$26.1
  • China:  52.36 Yuan
  • Dubai: 29.67 dirham
  • Canada: C$10.03
  • Thailand: 263.15 Baht
The prices below are not meant to demonstrate purchasing power parity and do not serve as an equal-weighted price comparison – it is simply a guide on how South African travellers should budget, should they want to engage in ‘leisure’ activities while touring.



















[https://businesstech.co.za/news/finance/218267/heres-
what-r100-buys-you-around-the-world-right-now-2/]

Ek bly maar lief vir syfers... Maar miskien is die heel beste
op hierdie stadium vir my om maar te bly waar ek is.