Sunday 16 September 2018

Die bekende dr. Joseph van Douglas

Jane het die Josephs geken, omdat sy ook van daardie wêreld gekom het, maar ek het hom eers heelwat later leer ken.

'n Interessante mens wat sy praktyk baie uniek bedryf het. Hy het sy eie medisyne gemaak (aangesien hy ook aptekerswese tot op 'n punt geswot het, as ek sy vertellinge reg onthou) en hy het veral gespesialiseer in rumatiekmedisyne (in daardie jare het ons na alle gewrigspyne verwys as rumatiek). Dokters van oor die land heen, het hom besoek, selfs Amerikaners het by hom 'n draai gemaak. Ek sou wat wou gee om vandag my hande op daardie botteltjie met pilletjies vir rumatiek te kan lê.

Ek onthou een spesifieke besoek baie goed. Martie (Jane se suster) het by ons gekuier (na Willie se dood) en sy het ook vir haar 'n afspraak by dr. Joseph gemaak. Ek het op daardie stadium gewerk, Jane was 'n tuisteskepper, Martie was op pensioen en Alda was 'n student. Nie een van ons het dieselfde konsultasiefooie betaal nie.

Arm mense het hy verniet behandel en in daardie jare (die laat 70's) het hy reeds sy eie apteek in sy spreekkamer gehad. Sy eie medisynemengsels was wel bekend en gewild en om kostes te spaar, het sy pasiënte leë medisynehouers aangedra, wat hy daardie tyd al herwin het. As ek nou so terugdink, was dr. Joseph 'n milleniumdokter, een wat sy praktyk ligjare die toekoms in bestuur het. Hy was ook so half ouderdomloos. Dit was moeilik om te skat hoe oud hy was, ek vermoed toe ons paaie gekruis het, was hy al 'n hele klompie jare verby aftree-ouderdom.

Een van sy liefdes was skryf. Hy het graag oor mense geskryf, maar nooit hulle identiteit of die Karoodorpies se name bekend gemaak nie. Hy het die boekies wat hy geskryf het, in Engels en in Afrikaans sommer self uitgegee. En toe hy dit wil verkoop, het die Medisyneraad (of wie hulle ook daardie tyd was), 'n netjiese stokkie daarvoor gesteek. Dit het hierdie begeesterde man nie ondergekry nie en hy het hulle vir sy pasiënte uitgedeel wat lief was vir lees.

Ek haal graag uit een van sy boekies aan - 'n treffende begin:

"Die twintigste eeu was maar tien jaar en vier dae oud toe my moeder die lewe aan 'n seun geskenk het. Daardie seuntjie was ek. Vir my ouers was dit 'n dag van besondere betekenis, omdat hulle 'n seun ryker geword het. Lank voor my geboorte het hulle besluit dat as die baba 'n seun is, hulle hom vir 'n dokter sou laat leer. My vader wou baie graag een geword het, maar hy het nie die geleentheid of voorreg gehad nie.

Destyds het honderde mense diamante gedelf, en waar ek gebore is, is duisende diamante uitgehaal. Die klein sinkhuisie waarin ek gebore is, is later afgebreek en  die gruis onder die huis omgekeer. Vier mooi 'klippies' is daar gevind en die geld wat my vader daarvoor gekry het, het die onkoste van my geboorte maklik gedek. Ek is letterlik op diamante gebore! Daardie selfde plasie is vandag my eiendom en weens sentimentele en ander redes kan geld hom nie koop nie.

Toe ek drie jaar oud was, het my ouers besluit om ses maande in die buiteland vakansie te gaan hou. Terwyl ons daar was, het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Ses jaar lank was ons daar vasgekeer en saam met duisende ander het ons byna van honger omgekom. Maande aaneen het ons van gekookte gras gelewe. Vir 'n kort rukkie was ek toegelaat om bloed by die militêre slagpale bymekaar te skraap. Dit het ons gekook en geëet."