Saturday, 28 October 2017

Die Krismisroos...

Hier is so 3 foto's wat ek sommer met my
selfoon uit die album afgeneem het. Die swart en
wit foto is een Sondag na kerk geneem, met
Ronell en Alda op die voorgrond!
Nie lank nadat ons ingetrek het nie, is ek as diaken in Dutoitspan-gemeente gekies. 'n Ene mnr. Gouws wat in Robinsonstraat gebly het, het een middag vir my twee half dooie stokkies gegee en gesê dat ek dit moet gaan plant. Jane het hierdie stokkies so een kyk gegee en besluit hulle gaan dit nie maak nie...

Ek het hulle nietemin in die grond gesit en versorg en tot ons groot vreugde het hulle gegroei en jaar na jaar vir ons bederf met armsvol blomme.

In 1968 het ds. Siebert vir ons gewys hoe om die krismisroos te snoei om tot sy volle reg te kom - baie blomme, maar kleiner of minder blomme, maar groter! Terwyl ek die wingerd gesnoei het, het Jane die krismisroos gesnoei en het ons land en sand gesels. Ons het elke jaar wingerdstokkies en krismisroosstokkies ingelê en uitgedeel aan almal wat wou hê.

En elke jaar was daar genoeg blomme vir ruikers in die kerk vir die Kersdiens, wat dikwels dan na "Ons Huis" (die ouetehuis) geneem is, sodat hulle dit verder kan geniet. Ons is ook met 'n klomp blomme na die begraafplaas toe... Dan het ons blomme op die tweelinkie se graf gaan sit (hulle is op Kersdag 1958 gebore en oorlede) en sommer dan ook op al die familielede en vriende wat nie meer daar is nie.


Die krismisroos het in 'n hoek gestaan wat aan die straatkant van die huis is... menigmaal het mense verby gery, foto's geneem, of selfs blomme gevra... Vanjaar, na meer as 55 jaar van blomvreugde, het die droogte ook hier sy merk gelaat... Ek wonder by wie ek weer 'n steggie kan kry, om die hoekie in die tuin, weer tot sy reg te kan laat kom!!  

Thursday, 26 October 2017

JC, voor die lang pad...

JC, dankie vir jou amper-met-vakansie-foto! Ek dink na 'n jaar van werk en studeer, gaan jy die vakansie dubbel en dwars geniet!

En as ek so na jou vakansiedrag kyk, sien ek dat ons altwee 'n voorliefde vir 'n keps het... Ek wonder waar my kruisbande is... miskien kan ek so 'n "tip" of twee weer by jou leen en 'n bietjie aan my voorkoms hier op my oudag werk... ek is natuurlik liewer vir 'n das, as 'n strikdas...

Geniet jou vakansie!!  


Saturday, 21 October 2017

Rose

Ek en Jane het nog altyd 'n sagte plekkie vir hierdie besondere plant gehad. Selfs in droogtetye het ons rose my altyd "ondersteun.".

Ons het 'n roostuin eers voor in die erf gehad en later na ons sekere verbouings aan die huis gedoen het, het ons dit na die kant van die huis geskuif. Elke jaar, tydens spesiale geleenthede, het hierdie rose hulle kant gebring en kon ek met elke verjaardag, Moedersdag, troudagherdenking en Kersfees vir Jane wakkermaak met 'n roos in 'n potjie! My blommerangskikkingstalente is nie noemenswaardig nie, maar ek het dikwels gehoor hoe sy en haar suster, Minnie, praat van "lyne" of ongelyke getalle... Dit het ek so af en toe ingewerk in my handewerk as die "blomme-oes" dit toegelaat het. Party datums het nooit binne die roosseisoen geval nie, maar in al my getroude jare, het hulle hul kant gebring.

En toe kom die groot en langdurige droogte, wat party plekke in die Noordkaap nou nog in 'n wurggreep beet het. En die laaste van die roosbome vrek... hulle wat dekades lank vir ons vreugde verskaf het... mooi om na te kyk en heerlik om te ruik...

Van waar die herinnering aan die rose?  Ek het weer so 20 stokkies ingelê... ek probeer hulle so tussen die Kimberley-hitte deur pamperlang... Net miskien is ek gelukkig om weer 'n tuin met roosbome te hê!     

Friday, 29 September 2017

Vakansieherinneringe...

Ons het as 'n gesin jaarliks vakansie gehou en heerlike herinneringe bymekaar gemaak. En vandag is dit deel van my kosbaarhede...

In my kop reis ek dikwels gou Murraysburg toe of Hartenbos toe - die oorslaapplekkies in Beaufort-Wes, Graaff-Reinett en ander, sit 'n glimlag op my gesig.

En om te dink dat die Septembervakansie 2016 in Knysna, lê sowaar al 'n jaar terug in die verlede...'n heerlike vakansie saam met die kinders en kleinkinders...

Henry het besluit om soveel kleinkinders as wat hy in die hande kan kry, wat weer op hulle beurt verlof kan kry, bymekaar te maak. Ons was 'n heerlike huisvol mense. Henry en Alda, JC, JJ en Janeke. Ongelukkig moes Gizela met 'n groep kinders gaan kamp. Gelukkig was sy die vorige jaar saam.  

In Knysna is ek bederf met 'n bootvaart op die rivier, rondry tussen al die geskiedkundige plekkies, 'n inloer by die ou kerkies en heerlike braaie waarvoor JC en JJ verantwoordelik was.

Op my ouderdom kyk 'n mens net na die see, 'n mens swem nie meer nie...

(Na die geweldige brande by Knysna, het ek dikwels gewonder hoeveel van die plekke wat ons besoek het, het die brand vrygespring!)

Friday, 15 September 2017

Sunday, 30 July 2017

'n Jack Russell se gehoorsaamheidsvlakke...

Ek is geen kenner van Jack Russells nie, maar dat hulle 'n hond met 'n persoonlikheid is, is nie te betwyfel nie. Niknaks was die wilde een wat vir geen duiwel gestuit het nie en orals geklim het om te kom waar sy wou wees.

Murphy is meer bedaard, is lief vir eet, veral vrugte... en op 'n manier hou sy daarvan om 'n mens te plesier. Sy kom darem as 'n mens haar roep... Altyd? Soms?

Murphy se groot bederf is om jogurt met 'n teelepeltjie uit 'n bakkie te eet!! Maar ai, die stukkie bederf is omtrent beperk tot verjaardae, Vadersdae en Kersfeeste...

Monday, 3 July 2017

Friday, 16 June 2017

Monday, 5 June 2017

My wintersvoorneme...

Ek gaan hierdie winter so min as moontlik beweeg...

Friday, 2 June 2017

Twee wiele vir my oudag...?

Volgens my jongste kleinseun, JJ, is ek glad nie te oud vir dié
rooi gevaarte nie! Ek het dit eers so van 'n
distansie bekyk, toe die sit-gevoel gekry en teen die tyd
dat ek genoeg moed bymekaar gemaak het om die rooi
meneer vir 'n "spin" te vat, toe trek JJ al by Drie Susters!!

My en Jane se eerste karretjie was so 'n rooi kewertjie...
'n Regte reënkewer - maar later meer daaroor!

Saturday, 13 May 2017

Nie 'n banghaar op my kop nie!!


So twee weke terug laat ek my hare sny 
en ten spyte van my min hare (ek sit 
ook deesdae in die "vinnige stoel", 
kos dit R80,00 (o ja - dis pensionarisprys!!)

Nou wonder ek maar net, wat betaal die 
manne in die ander stoel?

Saturday, 11 February 2017

Bloemfontein...

My twee-jaarlikse ondersoek in Bloemfontein by die harteenheid,
gaan vanjaar so 'n effense kinkel in die kabel hê! Ons gaan
sommer so 'n verjaardagkuier dieselfde dag inwerk!  

Alda het vir ons plek bespreek by dié gastehuis. Henry het
dieselfde dag vir 'n oogoperasie gegaan en Alda het tussen die 
twee hospitale rondgery - ons het darem tert, tee en roomys
vir haar verjaardag gehad 




Hulle bedien 'n heerlike Engelse of kontinentale ontbyt
in die eetkamer. Verder is hulle baie bekend vir hulle 

varsgebakte muffins en croissants.





































https://www.lekkeslaap.co.za/akkommodasie/albion-bb

Crispsingel 8Westdene,Bloemfontein9301


Friday, 20 January 2017

Bure in die baie vroeë jare 60...

Beriggie wat in Netwerk24 verskyn het.

Kobie Linde, ’n predikant, skrywer van verskeie geestelike boeke en eggenoot van die skrywer Engela van Rooyen, is Maandag in die Moot-hospitaal in Pretoria aan nierversaking dood.
Hy was ’n jaar lank in ’n versorgingseenheid aangesien hy ook aan demensie en diabetes gely het.
Linde is in 1935 gebore en het teologie aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer waar hy Van Rooyen ontmoet het. Hy was jare lank ’n kapelaan in Potchefstroom.
Sy meer as tien boeke het van 1992 tot 2004 verskyn en sluit in Goed begin, Padlangs na God, Superwenners, Uitroeptekens vir God, Die God wat omgee: Bybelse dagboek en Die volgende tree: ’n Dagreis deur Handelinge.
Van Rooyen sê in ’n e-pos “ons hou nie begrafnis of ’n gedenkdiens nie, gaan net die naweek saam as gesin saam met ma en kinders kuier en eet. Dit was vir my ’n groot bevryding om te besef dat begrafnis nie nodig is nie.
Wanneer ons oor ’n paar weke sy as bêre in die gedenkmuur by die kerk, sal ons weer almal teenwoordig probeer wees, tesame met ons dominee.”
Linde laat sy vrou, vier kinders en kleinkinders agter.

[20 Januarie 2017 14:25]
[http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/skrywer-predikant-dood-aan-nierversaking-20170120]

Friday, 13 January 2017

Kennisgewing van registrasie as kieser


Op 11 Februarie 1953 is ek as kieser geregistreer. Ek is egter
op die supplementêre lys geplaas wat die 1ste Mei 1953 in
werking tree. Wat my na al die jare opval, is die besondere
netjiese manier waarop hierdie poskaart ingevul is. Op daardie
stadium het ek in die Stasie Hotel gebly - dit was bekostigbaar
om in 'n hotel te bly, as jy nie ander losies gehad het nie! 

Nog skoenboksjuweeltjies!

Monday, 2 January 2017

De Aar Hoërskool se personeel: 1950

Ek het De Aar Hoërskool se jaarblad ontdek. Heerlike ou
herinneringe van onnies, hulle byname en hulle maniertjies.

Sunday, 1 January 2017

'n Nuwejaarsvonds!











Pa Schalk Pienaar, met die uwe Schalk Junior op sy arm. 
Op die foto regs is ek afgeneem na my ma se dood!



























'n Heerlike verrassing om so op die nuwe jaar 'n "Welfaart-telegramme" in die garage raak te loop, gedateer 12/12/50 in my pa se eie handskrif, 365 dae van gesondheid, rykdom en geluk is onbeperk aan my uitgemaak, van die Nasionale Voorspoedbank.
Dit is voorwaar 'n groot present vir 2017!!

Wense vir 2017...


Sunday, 20 November 2016

Die gevolge van gemak?

Deesdae is mense baie meer onbetrokke. Uitreik moet altyd deur een of ander aksie of projek gebeur. Baie belangrik is deesdae om alles op kamera vas te lê en dan die foto's die wêreld in te stuur.

Hierdie prentjie is ironies die waarheid... Miskien het dit tyd geword dat ons die mens voor die lens raaksien en nie deur die lens nie!

Saturday, 19 November 2016

In my leeftyd...

Ek het sommer 'n paar geslagte fone beleef, van die handsentrales tot by die selfoon wat jy in jou hempsak dra. Ek wonder hoe die volgende generasie fone gaan lyk?

Thursday, 10 November 2016