Hier is so 3 foto's wat ek sommer met my selfoon uit die album afgeneem het. Die swart en wit foto is een Sondag na kerk geneem, met Ronell en Alda op die voorgrond! |
Ek het
hulle nietemin in die grond gesit en versorg en tot ons groot vreugde het hulle
gegroei en jaar na jaar vir ons bederf met armsvol blomme.
In 1968 het
ds. Siebert vir ons gewys hoe om die krismisroos te snoei om tot sy volle reg
te kom - baie blomme, maar kleiner of minder blomme, maar groter! Terwyl ek die
wingerd gesnoei het, het Jane die krismisroos gesnoei en het ons land en sand
gesels. Ons het elke jaar wingerdstokkies en krismisroosstokkies ingelê en
uitgedeel aan almal wat wou hê.
En elke
jaar was daar genoeg blomme vir ruikers in die kerk vir die Kersdiens, wat
dikwels dan na "Ons Huis" (die ouetehuis) geneem is, sodat hulle dit verder kan
geniet. Ons is ook met 'n klomp blomme na die begraafplaas toe... Dan het ons blomme
op die tweelinkie se graf gaan sit (hulle is op Kersdag 1958 gebore en oorlede) en sommer
dan ook op al die familielede en vriende wat nie meer daar is nie.
Die
krismisroos het in 'n hoek gestaan wat aan die straatkant van die huis is...
menigmaal het mense verby gery, foto's geneem, of selfs blomme gevra... Vanjaar,
na meer as 55 jaar van blomvreugde, het die droogte ook hier sy merk gelaat...
Ek wonder by wie ek weer 'n steggie kan kry, om die hoekie in die tuin, weer
tot sy reg te kan laat kom!!