Ek en Jane het
nog altyd 'n sagte plekkie vir hierdie besondere plant gehad. Selfs in
droogtetye het ons rose my altyd "ondersteun.".
Ons het 'n
roostuin eers voor in die erf gehad en later na ons sekere verbouings aan die
huis gedoen het, het ons dit na die kant van die huis geskuif. Elke jaar,
tydens spesiale geleenthede, het hierdie rose hulle kant gebring en kon ek met
elke verjaardag, Moedersdag, troudagherdenking en Kersfees vir Jane wakkermaak
met 'n roos in 'n potjie! My blommerangskikkingstalente is nie noemenswaardig
nie, maar ek het dikwels gehoor hoe sy en haar suster, Minnie, praat van "lyne"
of ongelyke getalle... Dit het ek so af en toe ingewerk in my handewerk as die "blomme-oes"
dit toegelaat het. Party datums het nooit binne die roosseisoen geval nie, maar
in al my getroude jare, het hulle hul kant gebring.
En toe kom
die groot en langdurige droogte, wat party plekke in die Noordkaap nou nog in 'n
wurggreep beet het. En die laaste van die roosbome vrek... hulle wat dekades
lank vir ons vreugde verskaf het... mooi om na te kyk en heerlik om te ruik...
Van waar
die herinnering aan die rose? Ek het
weer so 20 stokkies ingelê... ek probeer hulle so tussen die Kimberley-hitte
deur pamperlang... Net miskien is ek gelukkig om weer 'n tuin met roosbome te hê!