Jane was haar lewe lank baie lief vir blomme. Blomme in die tuin, blomme in potte orals in die huis, blomme aan etenstafel en blomme wat spesiaal gerangskik is vir die ouetehuis, wat gou omgevat moes word, sodat die inwoners die oorvloed kleur kan geniet.
Sy het dikwels vir die kerkeredienste blomme rangskik en dan is daardie ruiker na die diens na Ons Huis, die ouetehuis, gevat sodat hulle dit ook kan waardeer. Sy het dikwels vir sinodesittings hulle groot ruikers en tafelruikers gedoen, omdat sy dit vir die liefde van die saak gedoen het en dit hulle niks gekos het nie. Groen loof het sy uit ons tuin, die kerk se tuin, Baby van Lingen en Ons Huis se tuin gekry as dit vir sulke groot geleenthede was. Ons het dikwels plante geplant net vir hulle loofwaarde. Sy moes dikwels skouerruikers maak en selfs die kinders was later bedrewe hierin.
En as sy nie blomme rangskik of geskilder het nie, het sy dit gepars en die mooiste kaartjies gemaak, wat mense dikwels geraam het. Haar motto in die lewe was dat mense vir mekaar blomme moet gee terwyl hulle nog lewe. Sy het so dikwels gesê dat sy nie blomme op haar graf wil hê nie en 'n plastiese blom het haar glad nie aangestaan nie ... Op 'n stadium was plastiese blomme "hoog mode" so in die jare 70 as ek reg onthou, en sy het so dikwels daarna verwys en dan die lewensles na die mens deurgetrek en na die waardeloosheid en die geveinsdheid van die mens verwys.
Sy het 'n hele klomp spesiale blomme gehad, waarvan 'n krismisroos baie hoog op haar lysie was. Ook kosmosse was 'n groot gunsteling. Ons het al die kleure kosmosse in die tuin gehad en haar groot vreugde was om bottels vol gemengde saad in die veld oorkant die huis te saai, en gedurende die lente die spatsels kleur in die veld te waardeer.