Wednesday 26 December 2018

Die rooi reëngogga ...

Ek en Yvonne van der Walt in
die 1936-Morris, terwyl Chris
van der Walt die foto
geneem het.
As jong man het ek 'n 1936-Morris gehad ... een met 'n afslaankap, wat ek by 'n mnr. Sudderland gekoop het. As ek so deur die strate gery het, het die wind deur my hare gewaai; daardie jare het ek nog hare gehad. Dié motor het ongelukkig nie lank gehou nie en indien ek daardie bedrag geld belê het, soos wat 'n vriend my geadviseer het, was ek baie beter daaraan toe - almal van ons betaal maar op een of ander manier skoolgeld.

Na ons troue het ons maar met dapper en stapper oor die weg gekom. Gelukkig was die openbare vervoer daardie tyd totaal anders as wat vandag die geval is en ons het baie van busvervoer gebruik gemaak.

Dis die jaar 1963.

Fairy Ferreira (dit was sy bynaam na aanleiding van sy van) was 'n jong man wat in dieselfde kantoor as ek gewerk het en hy wou daardie jaar trou. Maar hy het nie geld gehad vir die troue nie en besluit toe om sy kewertjie te verkoop. Hy vra toe maar vir almal in die kantoor of hulle nie belangstel of van iemand weet  wat belangstel om sy rooi Volkswagen te koop nie. Omdat hy weet dat ek op daardie stadium nie 'n kar gehad nie, kom hy spesifiek na my toe en vra of ek nie belangstel nie. Alda was op daardie stadium 3 jaar oud en ek was te bang dat as ons 'n karpaaiement, saam met die huispaaiement het, sal ek dalk nie alles vir my kind kan bekostig wat nodig is nie.

Op daardie stadium het Jane se oudste suster by ons gekuier en ek vertel hulle die middag van die rooi kewertjie. Ousus sê dadelik dat dit 'n een-maal-in-'n-leeftyd-kans is, en dat ons die karretjie moet koop. Ek en Jane het ons begroting uitgewerk en dan sien ons dat ons dit net-net nie gaan maak nie. Dan sê Ousus: "Gaan terug en werk weer aan julle begroting, ek sal bid."

En so het die rooi kewer (1957-model) in ons besit gekom en Fairy Ferreira het 'n heerlike troue gehad.

Ek het elke Saterdag hierdie kewer gewas en dan het ek gewone Kobra-politoer opgesit en met "elbow ghries" dit blink gevryf. Dan het ons vir die plesier 'n draaitjie in die dorp gaan ry. En feitlik sonder uitsondering het daar 'n reënbui op hierdie skoon karretjie uitgesak, sodat ons later na die kar as die rooi reëngogga verwys het.

Ons het die Volksie so Januarie 1963 gekoop en my vakansie was daardie Februarie. Ons het vir ons plek in Snyman se losieshuis in Oos-Londen bespreek. (Daardie jare was daar nie gastehuise nie, maar die geriewe was maar dieselfde - party losieshuise sou egter baie meer sterre gekry het as ander.) Ouderling Hawie wat in ons gemeente was, was net die vorige maand daar met vakansie en het net lof vir die plek gehad.)

Aanvanklik het ons gedink om met die Volksie see toe te gaan, maar omdat ons nie die nukke en grille van die tweedehandse motor geken het nie, het ons daarteen besluit en met die trein gegaan. Alda het haar 3de verjaardag in Oos-Londen gevier. 

(Hierdie foto's is van die internet - makliker om in die hande te kry, as om deur ou albums te blaai om 'n foto te soek en dan te "scan". Daardie ou Volksie het nog 'n klein agterruitjie gehad.)