Saturday 22 December 2018

Moenie te lank kuier nie ...

Name van my kleintyd wat heerlike herinneringe in die Murraysburg-distrik oproep is name soos Kapoksfontein, Swaelkrans, Hartebeesfontein, Noupoort, Spitskop en die Sneeuberge. Wat my die helderste voor gees staan, is die rondloop in die veld, die diere en die koppies in die omgewing wat ons uitgeklim het. 

Ek het my oupa Jan leer ken, toe hulle reeds dorpenaars was. Hy het op die plaas Swaelkrans grootgeword. Maar ek het die plaas leer ken toe sy skoonseun, oom Alwyn van der Merwe saam met sy vrou, tannie Stompie, op die plaas Swaelkrans geboer het. Daar was meer as een tannie Stompie in ons familie, so ons het na haar verwys as tannie Stompie Swaelkrans.

Voordat 'n mens Swaelkrans se hek gekry het, was daar oom Willie Pienaar (my pa se neef) se plaas, Hartebeesfontein. As ons die rondte van Vader Cloete by die familie gemaak het, het ons eers by oom Willie-hulle gestop en daar gekuier. Daarna het ons by my pa se suster, tannie Stompie-hulle, gaan kuier. Ek onthou oom Alwyn en sy ongetroude broer, oom Bennie, wat op daardie stadium by hulle op die plaas gebly het, as baie vriendelik, bedagsaam en hulpvaardig. Ons het altyd heerlik daar gekuier en op pad terug De Aar toe, het ons net gou by Richmond gestop om by vriende van my pa te gaan kuier. Alhoewel my pa daarvan gehou het om by vriende en famlie te gaan kuier het, het my pa 'n beleid gehad om nie lank by mense te kuier nie. Hy het geglo dat hulle nooit moet wens dat jy moet ry nie.

Hierdie beleid kom van sy pa, my oupa Jan af: "Mense moet nog verlang na jou, dan moet jy al op pad wees." Dit is 'n siening wat ek my hele lewe deur gehandhaaf het.