Thursday, 13 December 2018

Heerlike heuning - die goue stroop van die veld

Deesdae is heuning 'n luuksheid en binnekort 'n "skaarsheid" as ek sien hoe die arme heuningby teen al die elemente om oorlewing moet veg. Geen maklike taak vir 'n by nie!

Ons het 'n laning turksvye aan die straatkant van die erf gehad en voor hierdie laning het drie byekorwe gestaan. Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar daardie jare was die bye meer "mensvriendelik." My pa het nie die bye uitgerook of 'n beskermingspak aangetrek as hy die heuning gaan uithaal het nie. Slegs met 'n net oor sy gesig, het hy skottels vol heuningkoeke uitgehaal. En dan het hy die heuningkoeke in skottels gesit, sodat die heuning kon uittap.

Ek herinner my ook 'n keer dat hy by 'n reeks koppies naby die meent waar die diere bedags gewei het, heuning tussen die klippe uitgehaal. Dit was wilde bye en hy het geen probleme ondervind nie. As ek vandag terugdink met hoeveel gemak hy dit gedoen het, wonder ek hoekom vandag se bye so aggressief is?

Hierdie veldheuning het 'n besondere smaak gehad en vandag besef ek hoe bevoorreg ons was om die goue nektar daagliks op ons etenstafel te kon hê.