Die woord toebroodjies roep baie herinneringe by 'n mens op - die eerste is miskien die toebroodjie in jou skoolkosblik wat deur die jare so van gedaante verander het, dat vandag se kinders hulle neuse sal optrek vir daardie toebroodjies.
Ek kan nie presies onthou wat my ma altyd op ons toebroodjies gesit het nie - daar is egter 'n vae herinnering van onder andere konfyt op ons broodjies. Wat my toebroodjies besonder gemaak het, was die ruilwaarde wat dit tydens pouse gehad het, veral in die laerskool. Frans Cilliers, een van die leerders in my klas wat naby die skool gebly het, het altyd roereier op sy broodjies gehad. Hy kon nie wag om sy toebroodjies met myne te ruil nie, en ek was maar te gewillig om te ruil. (Eier is vandag nog baie hoog op my lys van gunsteling kossoorte - in enige vorm. Jane het altyd gesê dat as iemand my in die middel van die nag sou wakkermaak en 'n eier na my kant toe gooi, sal ek raakvang, maak nie saak hoe deur die slaap ek is nie.)
Jane kon altyd die heerlikste kosblikke vir die kinders pak en nooit was een dag se vulsel dieselfde nie. 'n Blou Maandag se toebroodjies het gewoonlik weerspieël wat Sondag op die tafel was ... bobotie, snytjies dun boudvleis of gebakte hoender. Gerasperde kaas, poeierbiltong en grondboontjie met stroop was ook groot gunstelinge. Nooit het sy 'n vulsel gedurende die week herhaal nie en sy het altyd gesê dat 'n mens kos met liefde moet maak. Die toebroodjies is dan keurig in waspapier toegedraai, voordat dit in die kosblik gesit is. Vir tweede pouse het sy altyd vrugte vir die kinders ingesit. Ons het daardie jare soveel vrugtebome gehad, dat daar altyd vrugte deur die jaar was, vye, druiwe, perskes, pruime, appelkose, granate, kwepers, nartjies, lemoene, ens. (Aarbeie, waatlemoen, spanspek en grenadella was ook volop). Met deesdae se geweldige hitte, min reën en my min energie, is al my vrugtebome met sitrusbome vervang ... hulle kan so half en half gelos word, en dan dra hulle nog steeds vrug!!
'n Ander toebroodjie wat my helder voor gees staan, is die destydse reënboogtoebroodjie. In die sewentigerjare was dit veral gewild by kerkvergaderings, begrafnisse en orals waar 'n bordjie eetgoed ter sprake was. Dit is altyd in driehoekies gesny, met gesnipperde blaarslaai tussenin. Ek het gegoogle om te kyk of ek 'n foto ter illustrasie kan kry, maar helaas kon ek net moderne reënboogtoebroodjies kry.
En dan was daar Jane se padkostoebroodjies ... saam met 'n gebakte boudvleis of hoender wat sy altyd so deur die nag in die oond gebak het. Die wiele het skaars begin draai of dit voel vir my dis tyd vir padkos ... op pad Hartenbos toe, het ons sulke gereeld stoppunte gehad en heerlik by die tafeltjie en stoeltjies langs die pad afgetrek. Medepadverbruikers het dikwels die toeter gedruk en uitbundig gewaai, want hulle is ook op pad see toe! Almal het 'n fles of twee gehad waarin koffie gemaak was - ons een wat die langste gehou het, was so 'n blou-en-wit-gestreepte een - fleskoffie het mos sy eie smaak. Later het dit so 'n flouerige blouerige smaak en kleur. Deesdae is daar by elke garage petrol en koffie beskikbaar - ek wonder watter een van die twee is die duurste.