Van al die vierpotiges wat al my pad gekruis het, gee hierdie een my die meeste vreugde. Murphy kommunikeer baie duidelik en as sy nie van iets hou nie, dan laat sy jou geensins in die duister nie. Sy het die gewoonte om deur die loop van die dag altyd 'n lekkernytjie by my kamervenster te kom vra. Sy staan op haar agterpote en het die vra-dans al behoorlik vervolmaak. Geen mens kan haar snoepgoed weier, as sy só mooi vra nie. Verlede week besluit ek om net een happie vir haar te gee, i.p.v. die gebruiklike kwota. Sy het net eenvoudig daaraan geruik, daarna gekyk en dit geïgnoreer. Eers toe ek vir haar nog gee, het sy dit geëet. Hierdie gedrag het ek by herhaling getoets - sy is nie tevrede met een snoepwieletjie of -stokkie nie, sy wag vir meer!
Ek besluit toe om haar eergister te bad, sodat sy darem net 'n bietjie skoner daar uitsien. Ek kan nie meer so lank staan nie, gevolglik het ek haar maar vinnig gebad en nie deeglik soos altyd nie. Ek gaan sit toe op die draadstoel, met haar aan die leiband sodat sy kan droog word, voordat ek haar weer haar vryheid gee. En daar by my voete, lê en lek sy haar bene en kyk vir my - so asof sy vir my sê dat ek halwe werk gedoen het en nie haar bene gewas het nie. Toe ek besluit dat sy nou droog genoeg is, maak ek haar los en voor ek by die agterdeur is, kom staan sy voor my - so vuil soos voor die badpoging! Sy het letterlik toe ek my rug draai, 'n draai deur die grond gemaak en net vir my kom wys dat alle pogings tot "skoonheid" futiel is. Sy moet dan maar vir die veearts in haar sandjas gaan kuier - dit blyk my dit is haar ware kleure!