Wednesday, 28 November 2018

Blomme - die gebaretaal van die natuur ...

Jane was haar lewe lank baie lief vir blomme. Blomme in die tuin, blomme in potte orals in die huis, blomme aan etenstafel en blomme wat spesiaal gerangskik is vir die ouetehuis, wat gou omgevat moes word, sodat die inwoners die oorvloed kleur kan geniet.

Sy het dikwels vir die kerkeredienste blomme rangskik en dan is daardie ruiker na die diens na Ons Huis, die ouetehuis, gevat sodat hulle dit ook kan waardeer. Sy het dikwels vir sinodesittings hulle groot ruikers en tafelruikers gedoen, omdat sy dit vir die liefde van die saak gedoen het en dit hulle niks gekos het nie. Groen loof het sy uit ons tuin, die kerk se tuin, Baby van Lingen en Ons Huis se tuin gekry as dit vir sulke groot geleenthede was. Ons het dikwels plante geplant net vir hulle loofwaarde. Sy moes dikwels skouerruikers maak en selfs die kinders was later bedrewe hierin.

En as sy nie blomme rangskik of geskilder het nie, het sy dit gepars en die mooiste kaartjies gemaak, wat mense dikwels geraam het. Haar motto in die lewe was dat mense vir mekaar blomme moet gee terwyl hulle nog lewe. Sy het so dikwels gesê dat sy nie blomme op haar graf wil hê nie en 'n plastiese blom het haar glad nie aangestaan nie ... Op 'n stadium was plastiese blomme "hoog mode" so in die jare 70 as ek reg onthou, en sy het so dikwels daarna verwys en dan die lewensles na die mens deurgetrek en na die waardeloosheid en die geveinsdheid van die mens verwys.

Sy het 'n hele klomp spesiale blomme gehad, waarvan 'n krismisroos baie hoog op haar lysie was. Ook kosmosse was 'n groot gunsteling. Ons het al die kleure kosmosse in die tuin gehad en haar groot vreugde was om bottels vol gemengde saad in die veld oorkant die huis te saai, en gedurende die lente die spatsels kleur in die veld te waardeer. 

Tuesday, 20 November 2018

Stofstrate en blink stoepe ...

In my kinderdae het De Aar nog grondstrate gehad en wat is nou lekkerder vir seuntjies as om fiets te ry dat die stof so staan. Maar ons is nog klein en bepaald nie gewigtig genoeg om 'n groot bondel stof op te skop nie. Die veld het egter mildelik in ons behoeftes voorsien. Ons het swaar asbosse agter aan ons fietse vasgemaak en gekyk wie kan die grootste stofwolk uit die grondpad ry.  

Met meerdere insig kan ek vandag net dink tot watter vlakke van ergenis ons die huisvrouens gedryf of liewers gery het ... ek kan nie dink dat hulle baie vriendelik met ons was, as hulle rooi gepoleerde stoep asvaal op 'n blou Maandag daar uitgesien het nie.

[Ek het ongelukkig nie 'n foto van 'n ou fiets of 'n asbos nie, maar hoop die illustrasies sal die gedagtes aan die loop sit.]

Is daar Engelse Van der Merwes in die Karoo?

My neef Pienaar van der Merwe, sommer in die wandel as Toy bekend, was die seun van oom Danie en tannie Stompie van der Merwe. Oom Danie was my ma Nellie se broer. Hulle het regoor die Rooms Katolieke kerk en skool gebly. En met 'n skool wat enkele treë van hulle voordeur af was, was daar geen twyfel waar hierdie nefies van my sou skoolgaan nie.

Hierdie Engelse nefies het wel saam met ons na die Afrikaanse Hoërskool gegaan.

My broer Piet is weer Petrus Van der Merwe Pienaar gedoop, maar omdat almal so 'n draai deur Murraysburg gemaak het, hetsy van pa of ma se kant af, is die sakie sommer met gepaste byname reggestel. Op hierdie manier kon daar nie verwarring bestaan oor die persoon ter sprake nie... 

Toy is getroud met Henna en hulle het twee seuns gehad. Die oudste seun is oorlede en nie lank daarna nie, is Toy ook oorlede. Henna het maar teruggetrek De Aar toe - die plek waar 'n mens se kinderspore nog helder voor jou geestesoog lê.

Monday, 19 November 2018

Die donkie met 'n missie ...

As die jongste van drie seuns, het ek dikwels so agter die groteres aangetou, wat my duidelik nie altyd in hulle planne ingesluit het nie, dan was daar Hannes Venter, die bure se seun, so omtrent broer Piet se ouderdom, en dan het ons nefies ook nie ver van ons af gebly nie. In kort, was daar altyd iets vir ons seuns om te doen! 

My ma het so twee keer 'n week brood gebak as ek reg onthou ...  En omdat ons net seuns was, is daar van ons verwag om hand by te sit, hetsy met die sif van die meel of die knie van die deeg.

Een aand so teen skemer, terwyl my ma besig was om die meel te sif, verdwyn Piet en Hannes na buite (en ek agterna) en so saam met die bure se seuns gewaar hulle 'n donkie wat voor ons huis verby loop, duidelik met 'n missie.
Dadelik skiet die blink gedagte hulle te binne om die donkie te vang en te ry. Die gedagte was nog nie eens behoorlik verwoord nie, toe het die donkie die pad oorgesteek en reg voor die stasiemeester, mnr. Van Aswegen, se motor ingeloop. Nodeloos om te sê dat ons ons koud geskrik het, en dit voordat ons nog tot aksie oorgegaan het. Almal bondel terug in die kombuis en waar daar eers 'n onwilligheid was om te sif, was daar toe te veel hande!

Sunday, 18 November 2018

Toebroodjies van my herinneringe ...

Die woord toebroodjies roep baie herinneringe by 'n mens op - die eerste is miskien die toebroodjie in jou skoolkosblik wat deur die jare so van gedaante verander het, dat vandag se kinders hulle neuse sal optrek vir daardie toebroodjies.

Ek kan nie presies onthou wat my ma altyd op ons toebroodjies gesit het nie - daar is egter 'n vae herinnering van onder andere konfyt op ons broodjies. Wat my toebroodjies besonder gemaak het, was die ruilwaarde wat dit tydens pouse gehad het, veral in die laerskool. Frans Cilliers, een van die leerders in my klas wat naby die skool gebly het, het altyd roereier op sy broodjies gehad. Hy kon nie wag om sy toebroodjies met myne te ruil nie, en ek was maar te gewillig om te ruil.  (Eier is vandag nog baie hoog op my lys van gunsteling kossoorte - in enige vorm. Jane het altyd gesê dat as iemand my in die middel van die nag sou wakkermaak en 'n eier na my kant toe gooi, sal ek raakvang, maak nie saak hoe deur die slaap ek is nie.)

Jane kon altyd die heerlikste kosblikke vir die kinders pak en nooit was een dag se vulsel dieselfde nie. 'n Blou Maandag se toebroodjies het gewoonlik weerspieël wat Sondag op die tafel was ... bobotie, snytjies dun boudvleis of gebakte hoender. Gerasperde kaas, poeierbiltong en grondboontjie met stroop was ook groot gunstelinge. Nooit het sy 'n vulsel gedurende die week herhaal nie en sy het altyd gesê dat 'n mens kos met liefde moet maak. Die toebroodjies is dan keurig in waspapier toegedraai, voordat dit in die kosblik gesit is. Vir tweede pouse het sy altyd vrugte vir die kinders ingesit. Ons het daardie jare soveel vrugtebome gehad, dat daar altyd vrugte deur die jaar was, vye, druiwe, perskes, pruime, appelkose, granate, kwepers, nartjies, lemoene, ens. (Aarbeie, waatlemoen, spanspek en grenadella was ook volop). Met deesdae se geweldige hitte, min reën en my min energie, is al my vrugtebome met sitrusbome vervang ... hulle kan so half en half gelos word, en dan dra hulle nog steeds vrug!!

'n Ander toebroodjie wat my helder voor gees staan, is die destydse reënboogtoebroodjie. In die sewentigerjare was dit veral gewild by kerkvergaderings, begrafnisse en orals waar 'n bordjie eetgoed ter sprake was. Dit is altyd in driehoekies gesny, met gesnipperde blaarslaai tussenin. Ek het gegoogle om te kyk of ek 'n foto ter illustrasie kan kry, maar helaas kon ek net moderne reënboogtoebroodjies kry.

En dan was daar Jane se padkostoebroodjies ... saam met 'n gebakte boudvleis of hoender wat sy altyd so deur die nag in die oond gebak het. Die wiele het skaars begin draai of dit voel vir my dis tyd vir padkos ... op pad Hartenbos toe, het ons sulke gereeld stoppunte gehad en heerlik by die tafeltjie en stoeltjies langs die pad afgetrek. Medepadverbruikers het dikwels die toeter gedruk en uitbundig gewaai, want hulle is ook op pad see toe! Almal het 'n fles of twee gehad waarin koffie gemaak was - ons een wat die langste gehou het, was so 'n blou-en-wit-gestreepte een - fleskoffie het mos sy eie smaak. Later het dit so 'n flouerige blouerige smaak en kleur. Deesdae is daar by elke garage petrol en koffie beskikbaar - ek wonder watter een van die twee is die duurste.