Sunday 28 August 2016

telefoonboekie

tussen die lyne ingeskryf
is my ma se geskiedenis:
vriende van nou en toe
bloedfamilie halffamilie hartfamilie
soms dwarsweg en onalfabeties ingepas
waar daar 'n hoek of spasie was

deurgetrek, oorgeskryf en uitgebrei
met elke geboorte, sterfte, huwelik of vertrek
het sy aankomelinge, weggegaandes en nuutgevondes
sekuur aangeteken en voorsien
van datum, tyd en plek

ek lees my ma se lewe
uit die boekie, tannie soekie tannie minnie
tannie bettie tannie naomi bel ek
vryburg welkom
kimberley de aar
om hulle te verwittig
van haar laaste vertrek


Uit: "In die afwesigheid van sin", deur Susan Smith. Beskikbaar by Protea Boekhuis.

[Hierdie gedig laat my dink aan my vrou se telefoonboekie wat 'n storie van sy eie vertel...]